Liedjie vir jou
Een van die vernaamste figure van die Musiek-en-Liriekbeweging wat in die laat 1970’s ontstaan het en tot in die vroeë 1980’s geduur het, was ’n gekwalifiseerde prokureur wat al in sy studentejare sy eerste treë in die Afrikaanse musiekbedryf as lid van die groep Trilogie gegee het.
Nadat Jannie du Toit nie daarin kon slaag om ’n platekontrak te kry nie, het hy besluit om self sy musiek te finansier en uit te reik. Die gevolg was sy eerste langspeelplaat, ’n Liedjie vir jou, wat in 1981 verskyn het. Op daardie stadium het Jannie gereeld musiekaande by sy huis in Margaretastraat 28, naby die Nasionale Dieretuin in Pretoria, gehou, en ander liedjieskrywers soos Koos du Plessis, Coenie de Villiers en Lucas Maree het gereeld tydens dié geleenthede opgetree.
Jannie het by geleentheid vertel dat hy die titelsnit geskryf het nadat hy ’n staptoer deur die Visrivier-canyon onderneem het. Dit was die begin van ’n lang en suksesvolle loopbaan as sanger en liedjieskrywer. Hoewel Jannie die hele album op sy eie uitgereik het, het dit verskeie radiotreffers opgelewer, onder meer sy komposisie van die C. Louis Leipoldt-gedig “Wys my die plek”, “Stadsgeluide” en “Magnoliadal”. Laasgenoemde snit se woorde is geskryf deur Babs Pretorius, wat ook vir verskeie van Janita Claassen se treffers verantwoordelik was. Jannie is goed bevriend met haar seun, prof. Fransjohan Pretorius, ’n geskiedenisdosent aan die Universiteit van Pretoria. Jannie het egter ook met snitte soos “Cholestrol” gewys dat hy ’n skerp sin vir humor het, en die opgewekte snit, “Min of meer”, het veral by jonger luisteraars byval gevind.
Jannie het ses jaar gewag voordat hy sy tweede album, Drie-uur in die môre, vrygestel het, en weer eens het hy dit self gefinansier en uitgereik. Hierdie album het die treffers “Ek wil vir jou”, gekomponeer deur Christa Steyn, “’n Nuwe wêreld” en “Luister na die liedjies” opgelewer. Dit was met hierdie album wat sy samewerking met Christa Steyn, wat vir die res van Christa se lewe sou duur, begin het. Sy derde album, Palet, het weer eens verskeie treffers opgelewer, onder meer “Gee ons vrede” en0 drie Nederlandse snitte, naamlik “Madeleine”, “Liefde van later” en “Achter de horizon”. Jannie en Christa het al hoe meer saam begin optree, nie net in Suid-Afrika nie maar ook in Europese lande, veral Nederland en België.
Jannie het ook ander Afrikaanse kunstenaars se musiek begin vrystel, onder meer Lucas Maree, Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock en Christa self. Jannie het nog altyd groot waardering vir die Belgiese sanger en liedjieskrywer Jacques Brel gehad, en in 2016 het hy ’n vertoning aangebied wat gebaseer was op die album met komposisies van Brel in Frans, Nederlands, Afrikaans en Engels wat hy kort tevore vrygestel het. Daarby het hy ook ’n vertoning gelewer waarop hy hulde aan Koos du Plessis gebring het.
Dit is ook gepas dat ’n “Liedjie vir jou” in 2012 in die nuwe FAK-Sangbundel opgeneem is, aangesien dit ’n oorspronklike Afrikaanse komposisie met tydlose bekoring is.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.