Pampoen

Toe Steve Hofmeyr in 2003 die eerste van sy uiters suksesvolle Toeka-albums vrygestel het, het hy nie net hulde aan plaaslike legendes soos Alan Garrity, Al Debbo, Tommy Oliver en Gene Rockwell gebring nie, maar soos wat hy gewoonlik met hierdie tipe albums doen, het hy ook ’n paar nuwe komposisies ingesluit.
Steve het in die Vrystaat grootgeword en aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Hy het al gesê dat “Pampoen die tipe liedjie is wat ‘n mens net kan skryf as jy van die Vrystaat af kom. Dit was een van drie oorspronklike komposisies vanaf die Toeka-album en die een snit wat seker die grootste treffer van sy hele loopbaan geword het. Miskien is ‘n belangrike rede hiervoor die feit dat mense van nostalgie hou; dit is nie net in die lirieke weerspieël nie, maar ook in die musiekvideo. Twee legendariese persoonlikhede in die vermaaklikheidsbedryf was in die musiekvideo te sien. Al Debbo het saam met Steve op sy opname van Hasie gesing; Miems de Bruyn, wat teenoor hom in die video gespeel het, was te sien in die rolprent Staal Burger, waarin sy die rol van Dada vertolk het. Onder die karakters wat sy op televisie vertolk het, was Kriekie de Waal in Nommer asseblief en tannie Ans Rademan in 7de Laan. Miems en Al is onderskeidelik in 2010 en 2011 oorlede; albei toevallig in die ouderdom van 87 jaar.
Sedert die aanvanklike vrystelling het Steve ‘n nuwe weergawe met ‘n bykomende vers geskryf en vir sy album Solitary man opgeneem. Daarna het hy en die rymkletser Hemelbesem, wie se regte naam Simon Witbooi is, di took nuut verwerk. Pampoen is een van ‘n paar van Steve se komposisies wat by die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.