MIMI COERTSE

Mimi Coertse is ’n Suid-Afrikaanse operasangeres wat ook bekendheid verwerf het vir haar vertolking van Afrikaanse kunsliedere.

Maria Sophia Coertse is op 12 Junie 1932 in Durban gebore en het aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer. In 1949 het sy met haar stemopleiding in Suid-Afrika begin en in Julie 1953 is sy met die uitsaaier en komponis Dawid Engela getroud.

Twee maande later het sy Suid-Afrika vir Londen verruil, daarna eers na Den Haag en later Londen gereis voordat sy in die Oostenrykse stad Wene aangekom het. In Januarie 1954 het sy haar opleiding met Maria Hittorff en Josef Witt begin.

In Januarie 1955 het sy haar debuut as die Eerste Blommemeisie in Richard Wagner se Parsifal by die Teatro San Carlo in die Italiaanse stad Napels gemaak. Sy het in dieselfde teater ook in Basie gesing. Op 17 Maart 1956 het sy vir die eerste keer by die Weense Staatsopera gesing toe sy die rol van die Koningin van die Nag in Die Towerfluit van Mozart vertolk het. Sy het tot 1978 by die Weense Staatsopera aangebly. In 1956 het sy hierdie rol vir die eerste keer in Covent Garden in Londen gesing. Sy het hierdie rol eindelik meer as 500 keer in Engels, Duits, Italiaans en Frans uitgevoer. In 1959 was sy as haarself te sien in Nooi van my hart, die eerste Afrikaanse rolprent wat in kleur verfilm is. In die 1960’s het sy gereeld in ander Europese operasentra ook opgetree en in 1966 het die Oostenrykse regering die titel van Kammersängerin aan haar toegeken. Die Oostenrykse gehore was so lief vir haar dat hulle haar “Unsere Mimi” (Ons Mimi) genoem het. In 1961 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n Medalje van Eer aan haar toegeken.

In 1973 het sy na Suid-Afrika teruggekeer en vir die destydse streeksrade vir uitvoerende kunste opgetree terwyl sy tot 1978 nog haar kontraktuele verpligtinge in Wene nagekom het. In 1979 het die FAK sy vyftigste bestaansjaar gevier en ter herdenking daarvan het sy die album Mimi Coertse en die Afrikaanse lied opgeneem. Hierdie album het ’n groot verskeidenheid van Afrikaanse liedere bevat, onder meer “Die Stem van Suid-Afrika”, wat destyds Suid-Afrika se nasionale lied was. Volksliedjies soos “Pollie ons gaan Pêrel toe”, “Daar kom die wa”, “Jan Pierewiet” en “Aai aai die witborskraai”, gewyde liedere soos “Psalm 8” en die “Magaliesburgse Aandlied” en kunsliedere soos “Ou Magjaar se liedjie”, “Die roos”, “Rooidag” en “Ek hou van blou” is ook by die album ingesluit. Die een Afrikaanse lied wat sy haar eie gemaak het, was S le Roux Marais se toonsetting van JRL van Bruggen se “Heimwee”. Daarby was sy ’n gereelde gas op Suid-Afrikaanse verhoë en sy het gereeld op Suid-Afrikaanse radio en televisie opgetree.

In 1996 het die Oostenrykse Bondsministerie vir Wetenskap en Kuns die Österreichisches Ehrenkreuz (Oostenrykse erekruis) in die eerste klas aan haar toegeken. Dit is die hoogste eerbewys wat ’n kunstenaar in daardie land kan ontvang. In dieselfde jaar het sy die EP The Diva divine saam met Nataniël uitgereik. Die Universiteit van Pretoria het ’n D Phil-eredoktorsgraad in 1998 aan haar toegeken; sy het haar toegespits op die identifisering en opleiding van jong operasangers en ten einde hierdie doel te bereik, het sy en Neels Hansen die Black Tie Emsemble gestig. Dit was ’n ontwikkelingsprojek wat jong sangers met klassieke opleiding die geleentheid gegee het om die gaping tussen hul opleiding en professionele optredes te oorbrug.

Die Mimi Coertse Museum van Afrikaans is in 2008 by die Huis van Afrikaanse Poësie (hAp) in Capital Park geopen en in 2012 is ’n spesiale uitstalling in die Staatsoperamuseum in Wene met die titel “Mimi Coertse: ’n Weense vrou uit Suid-Afrika”, gehou om saam te val met haar tagtigste verjaardag. Op 26 Januarie 2020 is sy by die Suid-Afrikaanse Huis van Legendes ingesluit en ’n borsbeeld van haar is onthul.

Mimi se huwelik met Dawid Engela het in 1957 geëindig toe hulle geskei is. Daarna was sy van 1965 tot 1969 met die Italiaanse sakeman Diego Brighi getroud. Haar derde en laaste huwelik was met die Suid-Afrikaanse sakeman Werner Ackerman, met wie sy in 1970 getroud is. Na vyf miskrame het sy twee kinders aangeneem, naamlik ’n seun, Werner, en ’n dogter, Mia.

Mimi vier op 12 Junie vanjaar haar 92ste verjaardag.

Daantjie Badenhorst

Deel hierdie storie!