Halala Afrika
Nadat Johannes Kerkorrel baie kritiek moes verduur vir veral sy taalgebruik op sy debuutalbum, Eet kreef, saam met die Gereformeerde Blues Band, het hy in 1992 ‘n hele nuwe rigting met sy musiek ingeslaan.
Sy tweede album, Bloudruk, het in 1992 verskyn, en benewens treffers soos “Somer” en “Hoe ek voel”, was daar een snit wat hom in die plaaslike musiekbedryf gevestig het en bewys het dat hy tot baie meer as net protesmusiek in staat was. “Halala Afrika” was tot ’n sekere mate effens gewaagd, omdat veral die vrouekoor ’n nuwe klank in Afrikaanse musiek geskep het.
Met hierdie snit het Kerkorrel die storie vertel van die invloed wat kolonialisme op Suider-Afrika gehad het; met die eerste vers het hy vertel hoedat Suider-Afrika gelyk het voor die koms van die kolonialiste. Die tweede vers vertel van die skepe wat op pad na die ooste by die Kaap aangedoen het vir kos en water, en die Nederlanders wat ’n nedersetting in die Kaap opgerig het. Daarby word daar ook vertel hoe oop vlaktes stedelike krotbuurte geword het.
Daarna het hy vertel van die mense van Afrika wat eers vry was, maar slawe geword het deur hul afhanklikheid van werk in myne. Waar mans vroeër jare vrylik kon rondbeweeg, is hulle vasgevang in myntonnels waar daar geen vars lug was nie. Daarby het hulle nie net inheemse diere aan hul mag onderwerp nie, maar ook grootwild, wat op groot skaal geskiet is.
Die uitdrukking Mayibuye Afrika was ’n versugting dat Afrika weer moes wees soos dit was. In November 1952 het die Mayibuye-proteskasie in Galeshewe naby Kimberley plaasgevind; ’n groot groep mense het beswaar gemaak teen die wette wat die Nasionale Party-regering ingestel het en wat hulle as onmenslik en diskriminerend beskou het. Die betogers wou na die sentrale sakegebied van Kimberley opruk en ’n brandstofdepot aan die brand steek , maar die polisie het hulle verhinder om dit te doen. Die uitdrukking Mayibuye Afrika beteken “bring Afrika terug”.
Nadat Kerkorrel hierdie album vrygestel het, het nog vier oorspronklike albums en twee versamelalbums gevolg. Die grootste verrassing van sy kant af vir Afrikaanse musiekliefhebbers het in 1996 plaasgevind toe hy die volksliedjie “Al lê die berge nog so blou” opgeneem het. Dit het van voor af ’n baie groot treffer geword.
Johannes Kerkorrel het op 12 November 2002 sy eie lewe geneem toe hy net 42 jaar oud was.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.