Lisa se klavier
Deur die jare was daar ’n aantal liedjies oor mense wat regtig gelewe het wat groot treffers geword het.
Een daarvan is geskryf en gesing deur een van die leiersfigure van die Voëlvrybeweging, André le Roux du Toit, wat natuurlik beter bekend as Koos Kombuis is. Lisa se klavier vertel die verhaal van Liza (sic) Joubert wat Koos tydens ’n etensuurvertoning by die Kosie Gericke-biblioteek in Kaapstad ontmoet het. Hulle het besef dat hulle letterlik loopafstand van mekaar gewoon het, en hy het by haar tee gaan drink. Wanneer hy wou rook, het hy op haar balkon gestaan terwyl sy binne haar woonstel klavier gespeel het.
In ’n onderhoud met LitNet in 2015 het Lisa haarself beskryf as ’n vrygees met ’n voorliefde vir die kleur pers en vir tweedehandse boekwinkels. Toe sy en Koos mekaar ontmoet het, vertel sy, het sy nie ’n motor of ’n selfoon besit nie, maar vanaf haar eenvrouwoonstel in Oranjestraat oral uitgekom. Sy is afkomstig van Stellenbosch en het ’n BMus-graad in klavieruitvoering onder Betsie Cluver verwerf.
Koos het die liedjie die eerste keer op sy album Niemandsland opgeneem, en daarna is dit heeltemal nuut verwerk vir sy album Elke boemelaar se droom; waarvan die titel uit ’n reël van dié liedjie gekom het. Daarna het verskeie kunstenaars en groepe dit opgeneem, onder meer Laurika Rauch, Dozi en selfs The Parlotones. Nedine Blom het dit ook opgeneem, maar haar weergawe verskil effens, omdat sy dit in die eerstepersoonsverteller sing en haarself in Liza se posisie gestel het.
“Lisa se klavier” is een van twee komposisies van Koos Kombuis wat in die nuwe FAK-Sangbundel ingesluit is.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.