Trompie

Soms gebeur dit dat ’n televisiereeks gebaseer op ’n reeks jeugromans daartoe lei dat ’n liedjieskrywer met ’n trefferliedjie vorendag kom.
Dit is presies wat Anton Goosen reggekry het toe hy die temaliedjie van die televisieweergawe van Trompie geskryf het. Die liedjie het net so gewild soos die televisiereeks self geword en het oorspronklik op Anton se album Jors Troelie voorgekom.
Trompie Toerien was die kaptein van die fiktiewe dorp Kwaggaberg se berugte Boksombende, wat allerhande manewales tot groot ontsteltenis van die dorp se inwoners aangevang het. Riaan Winter het die titelrol in die televisiereeks vertolk en die rolle van sy drie maats, Blikkies, Dawie en Rooie is onderskeidelik deur Sean du Preez, Petrus Jooste en Ivan Snyman vertolk. Sean is die seun van die Afrikaanse sangeres Vicki du Preez. Danie Smuts en Corrie Hyuser was in die rolle van Trompie se pa en ma te sien. Die vierpotige lid van die Boksombende was die hond Boesman. In die televisiereeks was daar onder meer ’n avontuur met ’n bobbejaan in die predikant se tuin, ’n mislukte poging om sy suster en haar kêrel met mekaar te versoen, ’n skoolkonsert waarin dinge nie altyd vlot verloop nie, asook planne om geld bymekaar te maak om ’n fiets vir Rooie te koop. In laasgenoemde episode het Trompie sy pa, wat ’n bankbestuurder was, gaan spreek, maar hy het gou agtergekom dat dit nie so maklik sou wees nie. Dan was daar uitskryfwerk wat Trompie self moes doen maar waarmee sy maats gehelp het. Die onderwyser in hierdie episode was Klaas de Boer, wat ook die rol van dr. Hans Jonker in Nommer asseblief vertolk het. In dié episode het hy die Boksombende uitgedaag om goeie dade te verrig, maar al is dit goed bedoel, het dit omtrent elke keer skeefgeloop.
Die skrywer van die Trompie-reeks was Topsy Smith; ’n onderwyser wat in 1985 oorlede is. Hy het verskeie boeke, wat hoofsaaklik reekse was, geskryf, onder meer die Saartjie-reeks, waarvan ’n televisiereeks met Annie Malan in die hoofrol, vervaardig is en wat hy onder die skuilnaam Bettie Naudé geskryf het. Die eerste Trompie-verhaal het reeds in 1950 verskyn en in 1974 is ’n vollengte rolprent uitgereik.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.