FAK Jeugsimfonieorkes biografie

Die FAK (Federasie van die Afrikaanse Kultuurvereniginge) het in Oktober 2022 ’n nuwe jeugsimfonieorkes gestig met die aanstelling van dirigent Jaco van Staden. Die doel van die orkes is om nuwe vernuf en meer gereelde beoefening van oorspronklike orkesmusiek onder die jeug te bevorder. Die orkes bestaan tans uit 26 lede. Die orkes het sy eerste amptelike publieke konsert by die Voortrekkermonument gehou op 24 Maart 2023 in die Senotaafsaal. Die orkes het ook sy heel eerste orkeskamp by die FAK se kultuurplaas, Udolpho, in Maart 2023 gehou. Ander uitvoerings vir 2023 was saam met die Akademia-koor in Mei, en het in Julie ‘n orkestoer na die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) suksesvol uitgevoer waar die orkes een van die eregaste was. Die orkes se weergawe van Christa Steyn se liedjie, “Daarom skryk ek”, by die fees ter eerbetoon aan dié musieklegende se bydrae tot die Afrikaanse musiekerfenis, was die motivering vir die erfeniskonsert saam met sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit op Erfenisdag 2023. Die FAK Jeugsimfonieorkes streef na ’n uitnemende orkesstandaard onder sy lede en nooi ook dus nog enige jong doelgerigte musikante tussen die ouderdom van 13 en 21 om deel van die orkes te word.

Dirigent: Jaco van Staden

Jaco van Staden

Jaco van Staden is in Kaapstad gebore en het in Pretoria grootgeword. Hy het sy MMus-graad in Uitvoerende Kunste aan die Universiteit van Pretoria verwerf onder leiding van Peter Griffiths asook ’n Onderwyslisensiaat in Franse horing (Unisa). Hy beoefen ’n loopbaan as Franse horing-speler, dirigent en koperblaasinstrument-onderwyser. Gedurende sy studiejare verower hy die Franse horing-beurs by die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SICMF), waar hy onder die wêreldbekende Franse horing-solis Abel Pereira in Portugal studeer het. In 2014 tree hy as gasspeler saam met die Orquestra Simfonica da Porto op. Jaco ontvang ook lesse in Wene by die Oostenrykse horingspeler Volker Altmann (voorheen Weense Filharmoniese Orkes) met behulp van MIAGI (Music is a Great Investment). Hy ontvang meestersklasse by verskeie ander internasionale horingspelers, naamlik Jeff Nelsen, James Nickel en Bodhan Sebestik. Tussen 2012 en 2017 studeer hy dirigeerkuns onder die Nederlandse dirigent Gerben Grooten en ontvang meestersklasse by Daniel Boico en Victor Yampolsky. Jaco woon meestersklasse in dirigeerkuns van prof. Mark Stringer by die Universiteit van Musiek en Kuns in Wene by en ontvang privaat onderrig by prof. Georg Mark by die Weense Volksoper. In 2016 is hy die naaswenner in die derde Len van Zyl Nasionale Dirigeerkunskompetisie en dirigeer die Kaapse Filharmoniese Orkes by die finale rondte. Jaco is tans verbonde aan die FAK waar hy as dirigent van die Jeugsimfonieorkes en voorsitter van die FAK-sangbundelkomitee dien. Hy is ook dosent in ensemble-uitvoering en dirigeerkuns aan die Universiteit van Pretoria, asook koperblaasonderwyser by Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaanse Hoër Meisieskool, met Franse horing as spesialisinstrument.

Sedert 2009 is hy ’n vryskuthoringspeler vir verskeie orkeste regoor Suid-Afrika en tree veral op saam met die JPO, JFO, GPO, KZNPO en MIAGI. Jaco het by talle internasionale musiekfeeste soos die Verbier-fees, Young Euro Classic-fees, Schleswig-Holstein-musiekfees, Ludwigsburger Schlossfestspiele en die Toblach Mahler-fees saam met die MIAGI-orkes opgetree. Tydens die 2018 Europese toer was Jaco ook assistentdirigent van maestro Duncan Ward en in dieselfde jaar aangestel as die dirigent van die Pretoria Simfonieorkes. Jaco verskyn dikwels as gasdirigent van die Gauteng Chamber Strings en is die medestigter en dirigent van Gauteng Musiki. Hy was die voormalige dirigent en medestigter van die UNISA Blaasensemble en Simfonieorkes. Jaco is gereeld betrokke as dirigent of Franse horing-speler by produksies van die Brooklyn-teater waar hy al talle konserte en opnames gedoen het insluitend opera, orkeswerke, concerto’s en kamermusiek. Jaco is baie passievol oor kamermusiek en is ’n DMus-student aan die Universiteit van Pretoria in kamermusiek onder leiding van dr. Ben Schoeman.