Ek sien vandag die son weer skyn

Toe Rina Hugo in 1983 haar debuutalbum vrygestel het, was daar veral een snit wat dadelik gewild geword het.

Leon Schuster was op daardie stadium hoofsaaklik bekend as ’n radio-omroeper en natuurlik ook ’n sanger van hoofsaaklik grappige liedjies, maar hy het verras deur die woorde van Rina se trefferliedjie “Ek sien vandag die son weer skyn”, te skryf. Dit was die begin van die loopbaan van een van die ware legendes van Afrikaanse musiek. Die wysie is deur die Nederlandse komponis en liedjieskrywer Pierre Kartner gekomponeer. Rina se debuutalbum het vinnig goue status bereik.

In 2005 het Tobi Jooste sy album Sprei jou vlerke vrygestel en ’n verrassing op hierdie album was ’n duetweergawe van hierdie liedjie waarop Rina saam met hom gesing het. Toe die nuwe FAK-Sangbundel in 2012 vrygestel is, was hierdie snit een van die nuwe Afrikaanse liedjies wat daarby ingesluit is.

Rina het haar musiekloopbaan begin as ’n lid van die Alabama-studentegeselskap, waarvan Johan van Rensburg die leier was. Sy het die graad BMus met sang as hoofvak aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (deesdae die Noordwes-universiteit) behaal en later ’n musiekonderwyseres aan die Hoërskool Gimnasium geword voordat sy haar voltyds op musiek toegespits het. Sy het aanvanklik hoofsaaklik in opera belanggestel, maar vir die ATKV se Crescendo-kompetisie ingeskryf, wat sy in 1978 gewen het.

Sy het deur die jare verskeie suksesvolle langspeelplate en CD’s vrygestel, onder meer duetalbums saam met Gé Korsten, Jannie Moolman en Manuel Escorcio. Rina het die laaste tyd al hoe meer op Christelike musiek begin konsentreer en haar mees onlangse album, Sy Naam is Jesus, is in 2017 vrygestel.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.