Droomvrou

Sekere liedjies is onlosmaaklik deel van ’n kunstenaar se loopbaan en dit word so gewild dat ’n mens vergeet dat hy of sy ook ander treffers gehad het.

Toe Lucas Maree se derde album, Miljoen, in 1992 verskyn het, was die titelsnit die een liedjie wat die meeste radiolugtyd gekry het en ook die meeste in aanvraag by sy konserte was. Die sentrale tema was die soeke na dinge wat lyk asof dit buite sommige mense se bereik is. Snitte soos “Die arend”, wat oor die strewe na “Vryheid” gaan, en “Nog een koppie koffie”, waarin hy gesing het van die behoefte om saam met iemand te kuier, het mense se behoeftes goed verwoord, maar daar was een snit wat, naas “Miljoen”, kop en skouers bo die res uitgestaan het.

“Droomvrou” was die een snit naas “Miljoen” wat ’n groot treffer geword het, tot so ’n mate dat dit deur verskeie kunstenaars opgeneem is en nou nog gewild bly. Naas Mathys Roets is die een kunstenaar wat sukses op radiostasies se trefferslyste behaal het, die voormalige Idols-finalis Jacques Terre’Blanche. Jacques is eintlik Engelssprekend, maar hierdie liedjie is een van minstens twee wat hy tot dusver in Afrikaans opgeneem het en dit was só gewild dat dit die eerste plek op Groot FM se Groot 20-trefferslys behaal het.

Lucas se pad het dié van Koos du Plessis gekruis toe hulle albei by die destydse koerant Oggendblad in Pretoria gewerk het. Koos was ’n subredakteur in die nagkantoor en Lucas was ’n fotograaf. Lucas is op 22 Julie 1952 in Johannesburg gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord voltooi en matriek aan die Hoërskool Langenhoven, ook in Pretoria, geskryf. Lucas het begin deur Engels te sing, maar in 1981 begin om Afrikaanse musiek te skryf. Dit het gebeur nadat hy onder ’n vriend se invloed by ’n huiskonsert van Jannie du Toit uitgekom het. Hy het Coenie de Villiers daar hoor sing, en hy, Jannie en Coenie het baie goeie vriende geword. Nadat Koos du Plessis in 1984 in ’n motorongeluk oorlede is, is Lucas as sy natuurlike opvolger beskou, veral nadat sy debuutalbum, Kiekies, die volgende jaar verskyn het. Benewens die titelsnit het “Victoriabaai”, waarin hy oor sy ma se dood gesing het, ’n treffer geword. Die Kiekies-konsert het daarna gevolg, met die nuwe treffesnit “Die weduwee se kruik”. Lucas het ook betrokke geraak by Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek, wat een album, Winde van verandering, opgelewer het, maar Lucas het nie van die politieke strekking van die album gehou nie hoewel hy wel die snit “Jerigo se mure” geskryf het. Een van Lucas se mees omstrede projekte was “Blouberg”, waarop hy nuwe woorde vir veral ou FAK-liedjies geskryf het. Daar was mense wat hom hieroor gekritiseer het, maar die album was nogal gewild. In 2008 het Lucas ’n DVD, wat ook op Blu Ray uitgereik is, vrygestel, waarop kollegas soos Jannie du Toit, Christa Steyn, André Swiegers, Coenie de Villiers en Mathys Roets saam met hom opgetree het.

Nadat dit bekend geword het dat kanker by Lucas gediagnoseer is, het Alexa Strachan in samewerking met die tydskrif Sarie, asook Mathys Roets en Mathys Maree aan ’n projek gewerk waarop verskeie kunstenaars hulde aan Lucas gebring het. Onder die kunstenaars wat op die album Een uit ’n miljoen vir Lucas opgetree het, was Kurt Darren, Steve Hofmeyr, Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock, Laurinda Hofmeyr en Jannie du Toit. Lucas is op 18 Februarie 2011 oorlede.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.