Blommetjie gedenk aan my
In 1979 het Anton Goosen die heel eerste Afrikaanse kunstenaar geword wat ’n langspeelplaat vrygestel het waarop hy uitsluitlik liedjies gesing het waarvoor hy die woorde en musiek geskryf het.
Dié album, getiteld Boy van die suburbs, het die Top 20-treffer “Kruidjie-roer-my-nie”, wat ook daardie jaar die Treffer van die Jaar op die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK se program Afrikaanse Treffers opgelewer, asook “Begrafnistyd in Zeerust” en die titelsnit; laasgenoemde twee snitte is destyds deur die SAUK verbied.
Daar was egter nog ’n snit wat iets heeltemal anders in Afrikaans was, naamlik die heel eerste Afrikaanse rock-liedjie. “Blommetjie gedenk aan my” vertel die storie van die spook van Uniondale. Op Paassondag in 1968, die 14de April, het ’n man in koue stormweer beheer oor sy motor verloor en sy verloofde, Marie Charlotte Roux, is uit die motor geslinger terwyl ambulanspersoneel wat op die toneel aangekom het, die bewustelose man agter die stuurwiel aangetref het. Marie Charlotte het lang, donker hare gehad en ten tyde van die ongeluk ’n donker bloes gedra. Hy het die volgende oggend in die hospitaal wakker geword en na sy verloofde gevra. Die mense het op die toneel na haar gaan soek en haar liggaam langs die pad gevind waar sy verkluim het. Tydens die Paasnaweek van 1976 is die eerste voorval van ’n spook wat haar beskrywing pas, aangeteken en sy is glo twee dekades lank gereeld deur rylopers en motoriste gesien. Hulle het ’n vroulike ryloper gewaar en haar opgelaai. Na ’n paar kilometer het sy skril gelag en uit die motor verdwyn.
In 2014 is die rolprent, Die spook van Uniondale, wat oor dieselfde verhaal gaan, uitgereik met Tanya van Graan in die rol van Marie Charlotte; onder die ander akteurs in die rolprent was die sangers Adam Tas en Jakkie Louw, asook Tobie Cronje, Ivan Zimmerman en Nadia Beukes.
Pieter Smith het dié snit ook in 2008 op sy album Spooknote, wat bestaan het uit bestaande en oorspronklike spookliedjies, opgeneem.
Skrywer
![daantjied](https://musiekerfenis.co.za/wp-content/uploads/2022/03/daantjied-300x300.jpg)
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.