Vat jou goed en trek Ferreira
Daar is verskeie Afrikaanse volksliedjies waarvan die woorde op werklike gebeurtenisse gebaseer was.
“Vat jou goed en trek Ferreira” is een daarvan. Die bekende Afrikaanse musieknavorser Anna Bender, het bevind dat dié liedjie waarskynlik in 1870 in Somerset-Oos ontstaan het. Mev. Annie Maloney , die plaaslike musiekonderwyseres van daardie tyd, het die melodie gekomponeer. Toe sy in Suid-Afrika aangekom het, het sy by ’n ryk boer van daardie omgewing, mnr. Van Aardt, tuisgegaan. Op die plaas langsaan het Jannie Ferreira gewoon; hy het die bynaam van Hoepelbeen gehad omdat sy een been korter as die ander een was.
Jannie wou by Van Aardt se pragtige 17-jarige dogter Ada gaan kuier, maar sy wou niks van hom weet nie. Van Aardt het die Ferreiras se plaas kontant gekoop, maar niks wat hy kon doen, kon maak dat Jannie die plaas verlaat nie. Dit het later die grap van die buurt en ’n verleentheid vir die hele omgewing geword. Ada en mev. Maloney het besluit om ’n plan te maak. Ada het die woorde van die liedjie geskryf, en mev. Maloney het dit getoonset. Hulle twee het toe die hele buurt na ’n dans toe genooi en in die teenwoordigheid van die gaste het mev. Maloney dit gesing. Al die ander gaste het dit gou aangeleer en mettertyd begin saamsing. Die reël “swaar dra al aan die een kant” het sekerlik na sy hoepelbeen verwys.
Jannie was woedend en het geen ander keuse gehad as om die dans te verlaat nie. Die volgende dag moes hy maar sy goed vat en padgee, soos die liedjie gesê het.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.