Vader Jakob

Baie van ons ken die liedjie “Vader Jakob”, wat ook soms in ’n kanon in vier dele gesing word.

Die liedjie is oorspronklik in Frans geskryf en was getiteld “Frère Jacques” (broer Jacques), maar is ook in Duits as “Meister Jakob” (meester Jakob) vertaal. Daar is ’n paar teorieë oor die oorsprong van die liedjie. Francesca Draughon en Raymond Knapp meen dat die liedjie oorspronklik geskryf is om die spot met die Jode, die Protestante en met Martin Luther te dryf. Nog ’n teorie is dat die liedjie geskep is om met die Dominikaanse monnike te spot. In Frankryk staan hulle as die Jakobyne bekend en hulle is bekend om hul luiheid en gemaklike leefwyse.

Die Afrikaanse woorde laat nie reg aan die betekenis van die oorspronklike liedjie geskied nie. Die oorspronklike liedjie se boodskap is dat die kerkklok nie lui nie omdat Frère Jacques slaap en nie die klok lui nie. In Afrikaans, asook in die ander tale waarin dit geskryf is, verskil die boodskap, naamlik dat die klok lui terwyl hy slaap. Dit gaan in werklikheid oor ’n monnik wat verslaap en wakker gemaak word om die kerkklok te lui.

Dit is nie bekend wie die melodie geskryf het of dit in Afrikaans vertaal het nie. Daar is ook ’n Noord-Sotho-weergawe op dié wysie, maar met ’n ander boodskap, naamlik “Bana ba sekolo tloong sekolong” (kinders van die skool, kom skool toe).

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.