Siembamba

Hoewel mense dink dat “Siembamba” omstrede is omdat dit oppervlakkig lyk, asof dit oor die moord van ’n kind gaan, is dit nie die geval nie.

Daar was selfs gissings dat dit een van C Louis Leipoldt se gedigte was wat gehandel het oor die dood van kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog. Daar is egter verskeie verduidelikings wat dit weerspreek. Een daarvan is dat die woorde “siem bamba” Xhosa vir “ons vang hom” is. In hierdie konteks word daar verwys na ’n slang, of iets wat gevaar of onheil versinnebeeld, en vermorsel word. Daar word ook gesê dat dit ’n troosliedjie is wat gesing word vir kinders wat bang is vir gevaar of onheil. Die woord het ook voorgekom in C Louis Leipoldt se gedig “’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie”.

Volgens die Etimologiewoordeboek in Afrikaans is die woord ’n vermenging van Portugees (sim: ja en bamba: dans), of minder waarskynlik Xhosa, of Zoeloe. Die liedjie is tot in die 19de eeu gesing as “Sien mamba, Mamma se kindjie”, wat weer eens na ’n slang, onheil of gevaar verwys. Die woorde “sien die mamba” het later Siembamba geword, soos dit in die volksmond bekend is.

Die eerste verwysing na die liedjie is in Joan van Niekerk se boek Die groot Afrikaans-Hollandse liederebuundel, wat in 1927 verskyn het. In 1937 is dit in die eerste FAK-sangbundel opgeneem. Deur die jare het verskeie kunstenaars, onder meer Carike Keuzenkamp en die Claude Larson-sangers dit opgeneem en in 2013 is dit as deel van Maroela Media se destydse veldtog as een van die Grootste Afrikaanse Liedjies aangewys.

Dit was ook die naam van ’n kinderprogram wat jare lank deur die Afrikaanse radiodiens van die destydse SAUK uitgesaai is en verskeie kleuterskole dra ook dié naam.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.