Sarie Marais
Hoewel “Sarie Marais” een van die heel bekendste Afrikaanse FAK-liedjies geword het, is dit nie ’n oorspronklike komposisie nie.
Die melodie dateer uit die Amerikaanse Vryheidsoorlog; dit is in 1865 deur Septimus Winner geskryf en daar word vertel dat dit deur Amerikaners wat in die Transvaalse goudmyne gewerk het, gesing is, en dat die Afrikaanse joernalis en digter Jacobus Petrus Toerien dit gehoor het. Hy het Afrikaanse woorde geskryf en dat hy die naam van sy geliefde, Susara Margaretha (Sarie) Maré verander het. Weens ’n drukfout is die van as Marais gespel, maar dit is só behou. Met verloop van tyd het die liedjie nog drie verse bygekry. Die verwysing na die Kakies kom uit die Anglo-Boereoorlog.
Sarie was die dogter van Jacob Philippus Maré en Cornelia Susanna Jacoba Erasmus, en is op 15 April 1869 op die plaas Eendracht naby Heidelberg in die destydse Transvaal gebore. Jacob Maré was later ’n lid van die uitvoerende raad van Transvaal en ’n straat in Pretoria se middestad was na hom vernoem. Sy het Jacobus Petrus Toerien ontmoet toe sy omtrent 16 jaar oud was; Toerien was ’n verslaggewer van die koerant Di Patriot in Paarl. Hulle is op 19 Desember 1884 getroud en het in Potchefstroom gaan woon. Die ontmoeting het plaasgevind toe Toerien ’n onderhoud met haar pa in Pretoria gevoer het. Sarie het lewenslank haar verbintenis met die liedjie stil gehou. Nadat Toerien in 1920 oorlede is, het sy by haar dogters in Bloemfontein gaan woon, waar sy op 22 Desember 1939 oorlede is. Sy is in ’n ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas naby die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.
In 1949 is ’n Afrikaanse vrouetydskrif gestig en die naam van dié tydskrif is aan die liedjie ontleen, aangesien dit beskou is as sinoniem met dié van maghebbende Afrikaanse vroulikheid. Hoewel dit nie die eerste vrouetydskrif in Afrikaans was nie, is dit een van net twee wat nog bestaan; die ander een is Rooi Rose.
“Sarie Marais” is deur die jare deur verskeie kunstenaars opgeneem, maar veral drie weergawes het tot dusver uitgestaan. Toe die Amerikaanse countrysanger Jim Reeves in 1963 deur Suid-Afrika getoer het en die hoofrol in die rolprent Kimberley Jim vertolk het, het hy ’n Afrikaanse langspeelplaat opgeneem. “Sarie Marais” was een van die snitte wat hy ingesluit het. In die laat 1990’s het die Belgiese tenoor Helmut Lotti die album Out of Africa vrygestel. Hierdie album het veral Suid-Afrikaanse liedjies bevat en Sarie Marais was die enigste Afrikaanse snit wat hy ingesluit het. Nog ’n Belgiese sanger wat die liedjie opgeneem het, was Stef Bos. Len Muller het in 2015 ’n nuwe weergawe saam met hom opgeneem, en op sy debuutalbum ingesluit. Die klankgreep van Jim Reeves se opname kan aan die begin van hierdie opname gehoor word. Tydens ’n uitsending van Maak ’n las het die bekende prof. Fransjohan Pretorius die geskiedenis van die liedjie vertel en ook die oorspronklike “Sweet Ellie Rhee” gesing.
Hoewel “Sarie Marais” nie ’n oorspronklike Afrikaanse komposisie is nie, het dit so ’n deel van ons kultuur geword dat dit nie regtig saakmaak nie.
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.