Taraboemdery
Taraboemdery is een van die Afrikaanse volksliedjies wat in die oorspronklike FAK-Sangbundel, wat in 1937 verskyn het, voorgekom het.
Volgens ’n artikel wat op 10 September 1943 in Die Huisgenoot oor die oorsprong van Afrikaanse volksliedjies geplaas is, is dit ’n Sweedse volkswysie met ’n tra-la-la-refrein. Die woorde is geskryf deur Eitemal, die skuilnaam van prof. Willem Jacobus du Plooy Erlank, wat ’n dosent in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch was. Eitemal het ook die woorde van ander bekende volksliedjies se woorde geskryf, veral “Bootjie na Kammaland”, “Goud en silwer” en veral “Die lied van jong Suid-Afrika”.
In 1976 het die dramaturg Chris Barnard, wat met die aktrise en rolprentvervaardiger Katinka Heyns getroud was, ’n toneelstuk met dieselfde naam die lig laat sien. Dit het gehandel oor armblankes wat bedreig is deur die aankoms van ’n straatslim vreemdeling. Hierdie toneelstuk is al verskeie kere opgevoer; die laaste keer tot dusver was by Aardkllop, Innibos en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Albert Maritz was die regisseur, en Richard van der Westhuizen, Neil Sandilands en Petro van den Heever was deel van die rolverdeling.
In 1981 het Eitemal ’n toekenning by die FAK ontvang vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse volksliedjie. Hy is in 1984 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.