Van Groen en Goud tot Hie’ kommie Bokke

In 1968 het The Bats met iets heeltemal nuuts vorendag gekom toe hulle “Groen en goud” geskryf en opgeneem het.
Dit was die eerste Afrikaanse liedjie wat sport as ’n tema gehad het en is uitgereik om saam te val met die Britse Leeus se toer na Suid-Afrika. Dit het in Julie daardie jaar tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die sewende plek gehaal. Dit is eintlik snaaks dat dit so lank geduur het voordat dit ’n algemene verskynsel in plaaslike musiek geword het, want eers byna twee jaar later het die volgende soortgelyke liedjie verskyn. In 1970 het die Australiese krieketspan met Bill Lawry as kaptein deur Suid-Afrika getoer; min het mense seker destyds geweet dat dit die laaste amptelike kriekettoer deur Suid-Afrika vir meer as twintig jaar sou wees. Groep Twee, wat destyds uit Gert van Tonder en Eddie Trautmann bestaan het nadat Sias Reinecke ’n tyd lank weggebreek het, het die liedjie “Daar kom die Ali Bacher” vrygestel om met die toer saam te val. Gert en Eddie was egter nie so suksesvol nie en hoewel dit later op meer as een Groep Twee-trefferversameling ingesluit is, het die meeste mense seker al daarvan vergeet.
Omdat internasionale sport op daardie stadium byna heeltemal buite die kwessie vir Suid-Afrikaanse sportlui en ondersteuners was, het die geringste moontlikheid daarvan die publiek gaande gehad. Herbie en Spence, destyds een van Suid-Afrika se gewildste sangpare, het “Die Loftus-lied” op die wysie van hul treffer “Ek is tog so verlief op jou”, geskryf toe ’n wêreldrugbyspan ’n “toets” in Suid-Afrika kom speel het ter viering van die inwyding van die opgeknapte Loftus Versfeld in Pretoria.
Leon Schuster, wat toe nog net ’n omroeper by die SAUK was en Die vrypostige mikrofoon, waarin hy mense gebel het en sy stem vermom het om hulle uit te vang, aangebied het, het ook nie op hom laat wag nie. Veral in 1979 en 1980 het hy seker gemaak dat mense bewus sou wees van wêreldtitel-boksgevegte wat in Suid-Afrika plaasgevind het. Vir Gerrie Coetzee se geveg teen Leon Spinks het hy “Gerrie seer handjies Coetzee” op die wysie van Anton Goosen se trefferliedjie “Kruidjie-roer-my-nie” geskryf, en vir Kallie Knoetze se geveg teen Duane Bobick het hy “Die Boomstraat blues” geskryf; die wysie is onbekend en daarom is dit moontlik dat Leon dit self gekomponeer het. Gerrie se oorwinning oor Leon Spinks het gelei tot ’n geveg teen John Tate om die wêreldtitel. Met “Oom Flippie se bielie-bielie-boksmasjien”, op die wysie van “Ta’Mossie se sakkie-sakkie Boeredans”, het Leon seker gemaak dat die datum en plek van die geveg altyd onthou sal word. Die komediant Dennis Mc Lean het nog ’n liedjie oor hierdie geveg, naamlik “Die boksers van Loftus”, op die wysie van Al Debbo se treffer “Die tantes van Nantes”, gesing. Nie een van die twee liedjies het gehelp nie, want Gerrie het die geveg verloor.
Nog ’n internasionale sportgebeurtenis wat tot meer as een liedjie gelei het, was die Britse Leeus se toer na Suid-Afrika in 1980. “Pale toe” was die laaste enkelsnit wat Groep Twee saam opgeneem het, en dit is as ’n kortspeler vrygestel. Daarby het Leon Schuster woorde vir Harry Belafonte se treffer “Banana Boat Song (Day-O)” geskryf ter ere van die Springbok-kaptein Morné du Plessis. Morné het die volgende jaar uitgetree; in sy program Koukus wat hy saam met Fanus Rautenbach aangebied het, het Leon die liedjie “Aan die muur hang nou sy togs en bôl”, op die wysie van Jurie Ferreira se liedjie “Aan die muur hang nou sy toom en saal” gesing, maar dit is nooit vrygestel nie. Dit was egter nie lank voordat ’n nuweling op die Suid-Afrikaanse musiektoneel die kol met ’n rugbyliedjie sou tref nie. Kort voordat die Springbok-rugbyspan in 1981 deur Nieu-Seeland getoer het, het David Kramer ’n tweetalige liedjie getiteld “Haak hom Blokkies” geskryf en opgeneem. Die onderwerp van die liedjie, Blokkies Joubert, was ’n fiktiewe rugbyspeler van die 1930’s. Die Springbokspan het die kortspeler saamgeneem op toer, en soos die toer voortgegaan het, het die liedjie opgang op Springbok Radio se Top 20 gemaak. Die naweek toe die laaste toets gespeel is, het David die nr. 1-posisie op die Top 20 gehaal en vier weke lank daar gebly. Dit was die laaste oorspronklike Suid-Afrikaanse komposisie wat dit kon regkry. Dit het David as ’n huishoudelike naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gevestig.
Nadat die platemaatskappy Decibel gestig is, is Leon Schuster gevra om ’n rugby-album op te neem. Hy het so gemaak, en “Die rugbyonthaal”, wat hy saam met Sias Reinecke geskryf het, het in 1982 die Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se program Afrikaanse Treffers geword. Sias is in Oktober daardie jaar oorlede. Leon het die een langspeelplaat na die ander met rugbyliedjies, maar ook liedjies met sosiale kommentaar, vrygestel en toe Suid-Afrika hertoegelaat is tot internasionale sport, het Leon vorendag gekom met die suksesvolste album in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Roy Bulkin, wat in Afrikaans en Engels gesing het, het vir Leon die idee gegee om ’n album vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 op te neem. Hie’ kommie Bokke was dadelik ’n topverkoper en die Springbokke het die toernooi gewen.
Dit het natuurlik ’n kettingreaksie veroorsaak en verskeie ander kunstenaars het op die lawaaiwa gespring. Die akteur Bill Flynn het ’n baie goeie tenoor-sangstem gehad, maar hoofsaaklik liedjies met ’n komiese inslag gesing. Sy album, Die toyi-kaka is ook vrygestel om met die Wêreldbeker saam te val, maar was nie so suksesvol nie. Sakka Stone het in 1991 aan die televisieprogram Debuut deelgeneem maar daarna het ’n mens nie weer van hom gehoor nie totdat hy die album Pasop vir die Bokke vir die Wêreldbeker opgeneem het. Hierdie album was ook nie juis gewild nie en hy het so te sê van die toneel verdwyn. Danie Niehaus en Tolla van der Merwe het die album Bokkie kom t’rug vrygestel wat weer eens nie eintlik ’n treffer was nie.
Nog iets wat ‘n kettingreaksie veroorsaak het, was die vrystelling van The best dance album in the world … ever in die middel 1990’s. Dit het gemaak dat almal iets soortgelyks wou vrystel en natuurlik het dit gelei tot Die heel beste rugbyalbum in die wêreld … ooit. Die weergawe van hierdie album wat in 1997 vrygestel is, het een van die grootste oorspronklike Afrikaanse rugbytreffers tot nog toe bevat. Hoewel Steve Hofmeyr in die Vrystaat gebore is en grootgeword het, het hy “Die Blou Bul” vir die Blou Bulle se ondersteuners geskryf; dit is jare lank met elke wedstryd op Loftus Versfeld gespeel. Sedert 1995 het rugbyalbums in elke wêreldbekerjaar verskyn, en in 1999 het Steve Hofmeyr sy eerste en tot dusver laaste volledige rugbyalbum vrygestel, naamlik Die bok kom weer. Benewens die titelsnit, op die wysie van “Word of mouth” van Mike and the Mechanics was daar ook ’n nuwe weergawe van “Die Blou bul” getiteld “Ek bly ’n Bok” en nuwe liedjies soos “Loftus los my nie”, “O liewe Bobby” , op die wysie van “Liewe Lulu” van Blackie Swart, “Bliksem”, wat gegaan het oor dr. Danie Craven se hond, en “Bring it home (Mooi mooi)”. Steve het daarna nog twee liedjies vir die Blou Bulle geskryf, naamlik “Maak die Bulle almal Bokke” en “Go Bulle go”.
Dit was nie lank voordat ander Afrikaanse kunstenaars liedjies vir hul rugbyspanne geskryf het nie; Juanita du Plessis se “Bulle bo”, Gerrie Pretorius se “Stormers song” en Fredi Nest se “Shark tenk” het treffers geword. Toe Robbie Wessels sy debuutalbum, My vissermansvriend se pa, vrygestel het, was daar ’n aantal rugbyliedjies daarop, onder meer “Pieter van Zyl”, waarin hy gesing het van die man wat ’n skeidsregter tydens ’n toets strormgeloop het. Bok van Blerk het dieselfde op sy debuutalbum gedoen en ’n liedjie ter ere van die Springbokvleuel Bryan Habana opgeneem. Hy en Robbie het kort daarna saamgespan vir “Ons vir jou Suid-Afrika”, wat eintlik ’n lied kan wees wat in die plek van die nasionale lied tydens rugbytoetse gesing kan word. Jay het vorendag gekom met “Bokke bring die beker huis toe” en later het “Een vir almal en almal vir een”, gesing deur Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Robbie van Jaarsveld en Jay ’n treffer geword.
Vir 2019 het nog ’n paar kunstenaars nuwe rugbyliedjies vrygestel; Early B met “Back die Bokke” en Robbie Wessels en Appel met “Staan saam” is twee daarvan. Die vraag is; gaan dit die Springbokke help om die Wêreldbeker die derde keer te wen?

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.