Prys die Heer met blye galme Deel 1
Deur die jare het die manier waarop kerklidmate die Here tydens eredienste, maar ook by ander geleenthede die Here geloof het, ingrypend verander deurdat meer kontemporêre instrumente ook as begeleiding vir meer tradisionele liedere gebruik word.
Daarom is dit dalk goed om te kyk na die geskiedenis van Afrikaanse kerkmusiek, veral in die drie susterskerke, naamlik die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk asook die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die Gereformeerde Kerk verskil in hierdie opsig van die ander twee deurdat die Psalms wel gesing word, maar dat Skrifberymings in die plek van gesange, wat deesdae as liedere in die Liedboek van die Kerk bekendstaan, gesing word.
Benewens die Afrikaanse Gesangeboek wat in 1944 in gebruik geneem word, was daar ook ’n bykomende sangbundel wat as Die Halleluja bekendgestaan het en in 1949 die eerste keer verskyn het. Die meeste Psalms en Gesange van die 1944-bundel is hierby ingesluit, maar ook ander liedere. Dit het Kersliedere soos “Stille nag”, “Die Heiland is gebore”, “O die vrolike o die salige”, “Kom herwaarts getroues” en “Kom kinders kom juig nou met vrolik geskal” ingesluit. Ander gewilde liedere wat gereeld gesing is, maar nie deel van die Gesangeboek was nie, was “Al my twyfel bring ek Jesus”, “As die lewenstrorme woedend om jou slaan”, “Bring my die ou-ou tyding”, “Blye versekering”, “Daar’s ’n dierbare kruis”, “Ek kan hoor my Heiland roep my”, “Ere sy God U die bron van ons lewe”, “Nader steeds nader”, “Nader my God by U”, “Saggies en teer”, “Staan op staan op vir Jesus”, “Strome van seën van bowe”, “Voorwaarts Christenstryders” en “Wat ’n vriend het ons in Jesus”. Die jonger kerklidmate is egter nie vergeet nie en ’n aantal kinderliedere wat in die Halleluja opgeteken is, is onder meer “Laat ons skyn vir Jesus”, “Jesus roep my vir ’n sonstraal”, “As Hy weer kom” en “Jesus min my salig lot”.
Intussen was die Afrikaanse Gesangeboek ook in gebruik, en hoewel daar hoofsaaklik van oorsese melodieë gebruik gemaak is, was daar tog ’n paar inheemse skeppings wat gereeld deur gemeentes gesing is, maar baie van hierdie skeppings is as “te vrolik” beskou. Een daarvan was die uiters singbare Voortrekkerwysie van Psalm 130; die mees ernstige beswaar daarteen was dat ’n mens nie jou skuld op ’n walsmaat kan bely nie. Nog ’n vrolike inheemse komposisie was die wysie van Psalm 147, wat vandag nog goed klink en met volle orkesbegeleiding gesing kan word. Nog ‘n voorbeeld is die wysie van Psalm 18. Vir hierdie drie Psalms het ander melodieë bestaan, en die meeste gemeentes het verkies om dit eerder nie te sing nie. Die inheemse wysie van Psalm 100 het egter groot byval gevind en ’n kosbare deel van die liedereskat van kerkmusiek geword, dieselfde met Psalm 48 en Psalm 23 se inheemse wysies. Daar is ook ’n Liederwysie vir Psalm 38 by Doornhoek in Magaliesburg opgeteken; dieselfde plek waar die “Magaliesburgse aandlied”, wat toe nog nie ’n amptelike kerklied was nie, ontstaan het. Daar was twee wysies vir Psalm 8 en 9; die eerstes, wat byna nooit in die kerk gesing is nie, het uit die Geneefse Psalmboek gekom, maar SJ de Villiers en Johannes de Heer se inheemse wysies vir hierdie onderskeie Psalms is veel eerder in gemeentes gesing.
Die bekende digter Totius was verantwoordelik vir die beryming van al die Psalms, hoewel daar ook in sommige gevalle tweede berymings was. Sommige van hierdie berymings het egter gebreke gehad. Aangesien die Psalms in die Bybel net só gebruik is, het dit soms gebeur dat sekere verse meer as een keer daarin voorgekom het, en dieselfde het in die berymings gebeur. Só byvoorbeeld was daar twee verse elk van Psalm 8 en twee van Psalm 42 wat presies dieselfde was, en telkens net een woord gehad het wat hulle van mekaar laat verskil het. Nog ’n gebrek wat met die beryming van die eerste vers van Psalm 42 na vore gekom het, was die lang asem tussen die woorde “wanneer” en “sal”, in die reël: “wanneer sal’k na swerftog en benouing God weer sien in klaar aanskouing?” Daar dit was ook die geval met die reël “Hoe lieflik is U wonings, Heer der leërskare”, waar daar ’n lang asem tussen “Heer” en “der leërskare” voorgekom het. Daar was ook ’n baie lang sin in die eerste vers, naamlik: “Hoe begeer my siel en hunker van verlange om na Gods woning op te gaan en in U tempelpoort te staan met jubelende lofgesange.” Die tweede berymings van Psalm 23 en Psalm 130 het nie eintlik byval by kerkgangers gevind nie en die Totius-berymings is eerder gesing. Dit het ook gebeur dat verse van sekere Psalms nie net met lofprysing gesing is nie, maar ook tydens ander liturgiese momente tydens eredienste. Só is Psalm 25 vers 2 gesing nadat die wet voorgelees is, Psalm 105 vers 5 is tydens doopgeleenthede gesing, terwyl Psalm 134 vers 4 so ’n gewilde seënbede geword het dat dit as ’n geheel behou gebly het, maar meer hieroor later. Die Geneefse Psalmboek het ’n aantal bekende en geliefde melodieë, wat ook vir ander gesange en liedere gebruik is, opgelewer. Die bekendste voorbeelde hiervan was Psalm 42, Psalm 84, Psalm 116 en Psalm 118. Een van die mees geliefde Psalms was Psalm 146, ook met ’n oorsese melodie. Hoewel ’n Liederwysie met ’n refrein intussen ook gekomponeer is, is dit nog nooit in ’n amptelike kerksangbundel opgeteken nie, al word dit gereeld in Die Voortrekkers gesing. Nog ’n voorbeeld van ’n gewilde Psalm wat aangepas is, is Psalm 100; Totius se woorde het behoue gebly, maar sekere charismatiese denominasies sing dit op ’n ander wysie, weer eens met ’n refrein. Die wysie van “’n Vaste burg is onse God”, waarvoor Martin Luther die oorspronklike woorde geskryf het, is vir Psalm 46 gebruik.
Onder die Gesange was daar ook ’n aantal wat gereeld gesing is, maar die woorde daarvan het mettertyd effens argaïes vir kerklidmate geword. Onder hulle was “Die Heer is God en niemand meer” (Gesang 4), “Op berge en in dale” (Gesang 7), “O goedheid Gods hier nooit volprese” (Gesang 12), “O God van Jakob” (Gesang 31), “Heugelike tyding” (Gesang 36), “Here hoe blymoedig” (Gesang 57), “Salig hy wat arm van gees is” (Gesang 61), “Waak Christen staan in die geloof” (Gesang 75) en “God enkel lig” (Gesang 80). Gewoonlik is twee liedere in eredienste na die voorlesing van die wet en die geloofsbelydenis gesing, naamlik Gesang 59 (“My siel herdenk met sidderbewe”) en Gesang 52 (“Ek geloof in God die Vader”) onderskeidelik. Net die elfde verse van elk van hierdie twee liedere is gewoonlik gesing.
Mettertyd het die kerk besluit dat die Halleluja-liedere “te vrolik” was, en ’n nuwe Psalm-en-Gesangeboek, met nuwe woorde vir sommige Gesange, asook ’n aantal nuwe toevoegings, onder meer Hallelujaliedere wat Kersgesange geword het, is saamgestel.
Skrywer
![daantjied](https://musiekerfenis.co.za/wp-content/uploads/2022/03/daantjied-300x300.jpg)
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.