Prys die Heer met blye galme deel 4
Hoewel die Jeugsangbundels en Sing onder mekaar ’n stap in die rigting van vernuwing in kerkmusiek was, is ’n splinternuwe sangbundel, wat hierdie twee asook die Psalm-en-Gesangeboek sou vervang, in 2001 by ’n feesgeleentheid in die Stadsaal van Pretoria in gebruik geneem.
Die Liedboek van die Kerk is deur die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk aanvaar, terwyl die Gereformeerde Kerk ook sekere liedere goedgekeur het. Daar was twee belangrike verskille: die Totius-berymings van die Psalms het verdwyn en die liedere wat op die Psalms gevolg het, het by nommer 151 begin. Daar was altesaam 602 liedere.
Die nuwe Psalmberymings is deur prof. TT Cloete behartig, en baie daarvan het gou inslag by gemeentes gevind, selfs dié wat onder ouer kerkgangers geliefd was. Sekere Psalms het weer eens meer as een beryming gehad. Lina Spies was byvoorbeeld verantwoordelik vir ’n alternatiewe beryming vir Psalm 8, en die inheemse melodie van SJ de Villiers is vir die Liedboek as tweede melodie behou. Dit is steeds die een wat gereeld gesing word. In sommige gevalle is bekende melodieë vir berymings gebruik, soos in die geval van Psalm 16 en Psalm 137 se berymings deur Antjie Krog en TT Cloete onderskeidelik. Die inheemse wysie vir Psalm 18 deur PK de Villiers het ook behoue gebly en word vandag nog gereeld gesing. Lina Spies het die alternatiewe beryming vir die bekende Psalm 23 behartig. Een nuwe beryming wat baie gewild geword het, is die een van Psalm 29, waarvan die wysie ook vir Lied 332, “God se liefde so oneindig”, gebruik is. Die Liederwysie van Psalm 38, wat in 1950 by Magaliesburg opgeteken is, is eindelik as amptelike melodie erken. Een van ’n paar berymings waarin foute van die verlede reggestel is, is Psalm 42; wat deur TT Cloete en Lina Spies berym is. Pleks van die twee verse wat byna presies dieselfde was met die Totius-beryming, het albei digters net ’n refrein vir vers 3 en 5 geskryf wat ooreengestem het. Die lang asem in die eerste vers van die Totius-beryming het ook verdwyn. Die Martin Luther-wysie van Psalm 46 is melodies aangepas, en vir twee ander liedere gebruik. Die lang sin in die eerste vers van die Totius-beryming van Psalm 84 is met korter sinne vervang; maar die melodie het behoue gebly en is vir verskeie ander liedere gebruik. Die nuwe beryming van Psalm 100 het gou net so gewild soos die eerste een geword; dit bestaan nou uit drie verse eerder as vier. Vir die eerste keer was daar Psalmberymings met ’n keervers, naamlik Psalm 111 en 112, op dieselfde wysie wat deur IJ Grové gekomponeer is net voordat die Liedboek in gebruik geneem is. Ondanks besware is die Liederwysie van Psalm 130 behou, en weer eens was daar berymings deur TT Cloete en Lina Spies. Die nuwe beryming van Psalm 146, al die jare ’n gunsteling onder kerkgangers, het ses verse pleks van agt bevat en nog ’n inheemse wysie wat behoue gebly het ten spyte van besware, was die lekker singbare Psalm 147.
Die samestellers het rubrisering ingestel, wat beteken het dat sekere liedere hoofsaaklik vir spesifieke liturgiese momente of spesiale geleenthede gesing is. Die eerste aantal liedere, van lied 151 tot 181 is geklassifiseer as toetrede-en-aanroepingsliedere, waarin kerkgangers opgeroep word om bymekaar te kom, of God se grootheid aan die begin van ’n erediens gesing word. Benewens bekende liedere soos “Here Jesus ons is saam” (Lied 157), “God is hier teenwoordig” (Lied 159) en “Heilige Jesus, Heer van die here” (Lied 168) is ’n paar nuwes ook ingesluit, sommige uit die Jeugsangbundel en ander splinternuut. Onder hulle is “Bring my na U woning Here” (Lied 158), “Soos ’n wildsbok” (Lied 163), “Majesteit” (Lied 175) en “Halleluja U is Koning” (Lied 176). Daar was ook al die jare beswaar teen die feit dat “Jesus, bron van al my vreugde” (Lied 167) in die vorige Gesangeboek net een vers bevat het, maar prof. Cas Vos het ’n tweede vers bygevoeg. Lied 182 tot 228 is as lofliedere geklassifiseer, en weer eens was daar ou gunstelinge en nuwe toevoegings. Die woorde van onder meer “Lofsing die Here” (Lied 184), “Grote God aan U die eer” (Lied 190), “Wonderbare Koning” (Lied 197) en “Loof die Here al wat lewe” (Lied 203) het onveranderd gebly, terwyl geringe veranderinge aan die tekste van liedere soos “God is my lied” (Lied 198), “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie” (Lied 200) en “Besing die lof van Jesus saam” (Lied 215) aangebring is. Die een groot verandering in veral hierdie deel van die Liedboek is die toevoeging van Taizé-liedere uit Frankryk. Die kopieregvereistes het bepaal dat die oorspronklike tekste in Latyn of Engels ook ingesluit moes word, met die gevolg dat kerkgangers ook in ander tale begin sing het. Onder hierdie liedere is “Loof die Heer omdat Hy goed is” (Lied 221), “Loof die Here God” (Lied 222), “Kom prys Hom alle nasies” (Lied 224) en “Sing, loof en prys die Heer” (Lied 227). Daar was ook ’n paar ander nuwe toevoegings, waarvan sommige in ander sangbundels verskyn het, asook ’n paar splinternuwe liedere. Onder dié wat uit die Halleluja en die Jeugsangbundel gekom het, was “Prys Hom die Hemelvors” (Lied 202), “Bring lof aan die Vader” (Lied 205), “Eer aan die Vader wat alles gemaak het” (Lied 207) en die inheemse komposisie “Loof die Heer, Hy is goed” (Lied 212). Onder die splinternuwe toevoegings wat byval gevind het, was “Heer met my hele hart” (Lied 209) en “Laat ons sing van ons Verlosser” (Lied 219).
Aangesien skuldbelydenis en genade nog altyd ’n belangrike deel van die liturgie was, is byna twintig liedere hieroor ingesluit. Benewens bekendes soos “God enkel lig” (Lied 238), “Jesus, Rots vir my geslaan” (Lied 239) en die lekker singbare “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het” (Lied 245) het “Heer wees ons genadig” (Lied 247) ’n gunsteling geword. Al hoe meer gebede is ingesluit, en die Onse Vader, die langste wysie in die Liedboek (Lied 266), is net só behou. Die laaste vers van Totius se beryming van Psalm 134, “Laat Heer U seën op hul daal”, wat ook as “hom” of “haar” gesing kon word na gelang van omstandighede, is as Lied 268 ingesluit. Een van die oorspronklike gesange, “Laat my met U verenig lewe” (Lied 273), is ook onveranderd gelaat. Een van die ou bekende gesange, “Guide me o Thy great Jehova”, is deur ds. Attie van der Colff en prof. Cas Vos in Afrikaans vertaal en albei weergawes is as opeenvolgende liedere, Lied 280 en 281, ingesluit. Een van die nuwe toevoegings wat ’n groot gunsteling geword het, is “Laat Heer U vrede deur my vloei” (Lied 284), met woorde deur Jacques Louw. Die laaste lied wat as ’n gebed geklassifiseer is, en wat deesdae gereeld gesing word, is “Here God van liefde” (Lied 286), ’n pragtige inheemse komposisie deur Greta Delport-Benade, wat met die sanger Innes Benade getroud is.
Die liturgiese jaar is as afsonderlike afdeling ingesluit, met adventliedere, Kersfees, lydenstyd, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster, en Drie-eenheidsondag. Een van die adventliedere wat ook as ’n loflied gesing kan word, en onveranderd ingesluit is, is “God is liefde, juig ons harte” (Lied 334). Daar is byna dertig Kersliedere ingesluit, onder meer bekendes soos “O die goeie tyding” (Lied 344), “Kom alle getroues” (Lied 345), “Stille nag” (Lied 348), “Kom kinders besing met ’n vrolike stem” (Lied 349) en “Herders op die ope velde” (Lied 364). Twee toevoegings het egter dadelik gunstelinge geword. Jacques Louw het nuwe woorde vir die ou Hallelujalied, “Die Heiland is gebore”, geskryf; dit is as lied 353 ingesluit. Die ander een was Koos du Plessis se komposisie “Somerkersfees”, wat onder die titel “Welkom o stille nag van vrede” as Lied 358 ingesluit is. Die een lied wat nog al die jare as ’n loflied gesing is, maar hierdie keer as ’n Pinksterlied geklassifiseer is, is “Kom almal laat jul stem verrys” (Lied 411), waarvan die woorde onveranderd gelaat is. Onder die Drie-eenheidsliedere was daar twee toevoegings wat uit die tweede Jeugsangbundel gekom het, naamlik “Vader, Seun, Heil’ge Gees” (Lied 450) en “Vader ons eer U” (Lied 454), met woorde geskryf deur die Afrikaanse sanger Ruben Lennox.
Die laaste deel het bekendgestaan as “Die erediens van die lewe”, met onderwerpe soos skepping en onderhouding, die heerskappy van God, die kerk, geloof en vertroue, liefde, dankbaarheid en diens, die huwelik, kindwees, oggend- en aandliedere, lyding en nood, sterwe en begrafnis en hoop en voleinding. Nog ’n bekende lied wat al in albei die Jeugsangbundels asook in Sing onder mekaar verskyn het en by die Liedboek ingesluit is, is “How great Thou art”, wat as “O Heer my God” as Lied 464 ingesluit is. Verskeie kanons is ingesluit, en die een wat seker die meeste inslag gevind het, was “Soek allereers die koninkryk van God” (Lied 471). Een van die meer moderne komposisies in die Liedboek is “Song for the nations” van Chris Christenson. Na meer as een poging om Afrikaanse woorde daarvoor te skryf, het prof. Cas Vos met “Helder skyn U lig vir die nasies” (Lied 488) vorendag gekom. Onder die liedere met geloof en vertroue as tema was daar weer eens ’n mengsel van ou bekendes en nuwe weergawes van liedere wat al voorheen in ander sangbundels verskyn het, asook ’n pragtige inheemse skepping. Prof. IL de Villiers het pragtige nuwe woorde vir “Jesus U gaan voor” (Lied 505) geskryf, terwyl een van die legendariese gesange wat al in 1944 ingesluit is, “Op berge en in dale” (Lied 509), die woorde wat in 1978 daarvoor geskryf is, behou het, met die verskil dat een vers weggeval het. Die lied “Amazing grace” is eindelik in die Liedboek ingesluit nadat dit eers in die Jeugsangbundel en Sing onder mekaar verskyn het. “Genade onbeskryflik groot” (Lied 510) het dadelik ’n gunsteling geword. Drie ou Hallelujaliedere kom ook in hierdie rubriek voor, naamlik “Lei U ons, Lig” (Lied 511), “Soek in God jou sterkte” (Lied 513, die nuwe weergawe van “Voorwaarts Christenstryders”) en “Ek weet vir seker” (die nuwe weergawe van “Blye versekering”, Lied 514). Die nuwe toevoeging in hierdie rubriek is Gisela de Villiers se pragtige inheemse skepping, “Voel jy soms of die Here te ver is” (Lied 518). Nog ’n ou 1944-gesang met woorde wat effens verander het, is “Here hoe blymoedig” (Lied 525), en die daaropvolgende een, “Waar daar liefde is”, is ’n pragtige Taizé-lied wat ’n groot gunsteling geword het. 1 Korintiërs 13 is op die wysie van Beethoven se “Ode to joy” berym; die gevolg was nog ’n gunsteling, naamlik “Praat ek mense’ eng’letale” (Lied 530). Natuurlik is daar nie van die kinders vergeet nie, en twee inheemse komposisies het onder oud en jonk gewild geword, naamlik Braam Hanekom se beryming van Psalm 47, “Alle volke klap jul hande” (Lied 547), wat eintlik ’n loflied is, en Elizabeth Fourie se komposisie “Ek is bly ek ken vir Jesus” (Lied 553). Twee inheemse melodieë is ook onder die oggend- en aandliedere ingesluit, naamlik die “Magaliesburgse Aandlied”, met die oorspronklike teks, asook ’n nuwe een (Lied 565 en 566 onderskeidelik) en Chris Lamprecht se wysie vir die “Aandgesang” (Lied 563). Daar was twee nuwe toevoegings teen die einde van die Liedboek wat self baie gewild geword het; Jacques Louw het nuwe woorde vir die Halleluja-lied, “As Hy weer kom”, geskryf; dit is as Lied 599 ingesluit, en die voorlaaste lied (Lied 601), “Dié wat die Here wil dien”, is ’n komposisie van die Nederlandse komponis Wim ter Burg. Die Liedboek word afgesluit met “Ek sien ’n nuwe hemel kom”, waarvan die woorde onveranderd gelaat is.
Hoewel die VONKK- en FLAM-kommissies hard aan die werk is om verdere vernuwing in onderskeidelik klassieke en kontemporêre kerkmusiek te bewerkstellig, sal die Liedboek seker nog baie jare lank in gebruik bly.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.