Prys die Heer met blye galme deel 2
In 1978 is die nuwe Psalm- en Gesangboek in gebruik geneem, en aangesien die Halleluja-liedere as “te vrolik” bestempel is, is dié sangbundel afgeskaf. Dit het gemaak dat jonger lidmate ’n tyd lank van die kerk vervreem is. Die Psalms is net só behou, aangesien daar geredeneer is dat Totius se berymings onaangeraak moes bly, maar die woorde van verskeie gesange is verander, en ’n paar nuwe liedere, wat uiters gewild onder gemeentelede geword het, is bygevoeg. Dit het ’n aantal Kersliedere ingesluit, hoewel die woorde daarvan aangepas is om by veranderende taalgebruik aan te pas. Onder hulle was “Stille nag”, “O die goeie tyding” (voorheen “O die vrolike o die salige”), “Herders op die ope velde” (voorheen “Herders op Bethelems ope velde”), asook “Kom kinders besing met ’n vrolike stem” (voorheen “Kom kinders kom juig nou”). Twee geliefde Kersliedere, “Die Heiland is gebore” en “Bethelems ster”, is weggelaat. Onder die ou gesange wat nuwe nommers en nuwe woorde gekry het, was “U goedheid, Heer kan ons nie peil nie” (Gesang 40, voorheen Gesang 12), “Op berge en in dale” (Gesang 47, voorheen Gesang 7), “God is my lied” (Gesang 11, voorheen Gesang 16), “O God van Jakob” (Gesang 34, voorheen Gesang 31), “O Christus ons verlange” (Gesang 80, voorheen Gesang 106) en “Middelpunt van ons verlange” (Gesang 130, voorheen Gesang 118).
Daar was ook nuwe toevoegings, nie net uit die Halleluja nie, maar ook ander sangbundels, wat baie gewild onder kerklidmate geword het. Dr. IL de Villiers was vir baie tekste in die 1978-Gesangboek verantwoordelik, en een loflied wat baie gou inslag gevind het, was “Kom dank nou almal God” (Gesang 5). Die teks vir die volgende gesang, “Heilig, heilig, heilig”, is deur ds. Attie van der Colff geskryf; die melodie het uit die negentiende eeu gedateer. Ds. Van der Colff was ook verantwoordelik vir die teks van nog ’n destyds nuwe toevoeging tot die Gesangboek, “Grote God aan U die eer” (Gesang 10), wat van toe af gereeld in gemeentes gesing is. Een lied wat sy nommer in die Gesangboek behou het, was “Here hoeveel blye dae” (Gesang 29), met ’n hersiene teks deur Gerjo van der Merwe.
Twee melodieë is soms vir sekere liedere ingesluit, hoewel dit hoofsaaklik gebeur het dat net een werklik byval gevind het. Só ’n voorbeeld is “U goedheid Heer kan ons nie peil nie” (Gesang 40). In die 1978-Gesangboek is die wysie van Psalm 118 as die hoofwysie vir hierdie gesang aangedui, maar niemand het dit gesing nie, hoewel dit eintlik bekend was. Die rede was dat die Gesang 12-wysie, deur die Britse orrelis William Letton Viner, eerder gesing is, met die gevolg dat die oorspronklike wysie, wat hierdie lied betref, vergete geraak het. Die teks van die uiters gewilde Gesang 47, “Op berge en in dale”, het ’n interessante geskiedenis. Daar was meer as een poging om dié wysie, wat in Nederland ontstaan het, in Afrikaans te vertaal. Die eerste poging van CJ Langenhoven het in 1922 in sy boekie Gesange in Afrikaans voorgekom, maar dit is nie deur die kerk aanvaar nie. Dit het die volgende woorde as eerste vers ingesluit: “In ruimtes ongeskape, reeds wagtend daar was God, In wêrelde ontslape, nog wakend daar was God, Waar nog geen ewighede ontstaan was, daar was God, Die ewige verlede bly hede nog by God.” Nog ’n gesang met twee melodieë was “Leer my op U wag o Here” (Gesang 49). Die oorspronklike melodie het uit die Geneefse Psalmboek gekom, maar ’n alternatiewe inheemse melodie is in 1950 in die Noord-Kaapse dorp Strydenburg opgeteken; dit het as die Badenhorst-gesang bekendgestaan. Dit is die melodie wat deesdae gereeld gesing word.
Drie pragtige en gewilde lofliedere het direk na mekaar gevolg, naamlik “Wonderbare Koning”, “Loof die Here al wat lewe” en “Lofsing die Here” (Gesang 61, 62 en 63 onderskeidelik), en veral laasgenoemde se weglating uit die 1944-Gesangboek was ’n raaisel. Dit is wel as Hallelujalied 363 onder die titel “Loof o my siel die almagtige Koning ter ere” ingesluit, maar nadat dr. IL de Villiers ’n nuwe teks geskryf het, het dit eindelik sy plek in die 1978-Gesangboek ingeneem. Nog ’n nuwe toevoeging, wat in die advent- en pinkstertyd gesing kan word, was “God is liefde, juig ons harte” (Gesang 74), waarvoor ds. Attie van der Colff die Afrikaanse teks geskryf het. Nog ’n lied wat by meer as een geleentheid gesing kan word, is “Kom almal laat jul stem verrys” (Gesang 142). Die wysie het in die sewentiende eeu in Keulen ontstaan, en in 1951 het prof. CGS de Villiers ’n eerste poging aangewend om dit in Afrikaans te vertaal. Hierdie weergawe is as lied 536 in die Halleluja ingesluit, maar ds. Attie van der Colff het nuwe woorde vir die 1978-Gesangboek geskryf. Prof. IL de Villiers het self vertel hoedat hy die teks vir “Ek sien ’n nuwe hemel kom” (Gesang 177) gekomponeer het.
Daar is ook twee melodieë vir “Neem my lewe, laat dit Heer” (Gesang 190), maar die een wat in die kerk gesing word, is in 1979 deur JH Knecht gekomponeer. Die Engelse wysie, wat glad nie in die kerk gebruik word nie, is in 1875 deur Frances Havergal geskryf. Daar was nog so ’n geval, net twee liedere later. “Jesus Rots vir my geslaan” (Gesang 192) word gesing op die wysie wat in 1853 deur Richard Redhead gekomponeer is, terwyl die Engelse weergawe, “Rock of ages cleft for me”, ook op die wysie van Thomas Hastings gesing word. Dalk is dieselfde beswaar as teen Psalm 130 ter sprake, aangesien dit in ’n amperse walsmaat gesing word. Een van die mooiste nuwe toevoegings tot die 1978-Gesangboek was “Jesus wat my liefhet Heer” (Gesang 200), prof. IL de Villiers se Afrikaanse weergawe van “Jesus lover of my soul”, met die teks geskryf deur Charles Wesley. Hy was die jongste broer van John Wesley, die stigter van die Metodistekerk. Die volgende Gesang, “Jesus bron van al my vreugde”, bevat ’n melodie wat nêrens anders in die Gesangboek voorgekom het nie, en die algemene gevoel was dat een vers nie genoeg was nie. Sonder om dinge vooruit te loop: hierdie saak sou later reggestel word.
Een van die mees geliefde gesange in die 1944-Gesangboek was “Here hoe blymoedig” (Gesang 57), wat Gesang 202 in die 1978-Gesangboek geword het. Die woorde is deur Gerjo van der Merwe aangepas. Martin Luther was die oorspronklike skrywer van die teks van “’n Vaste burg is onse God” (Gesang 217) wat in Afrikaans deur ds. Attie van der Colff verwerk is. “Ek wat vergifnis, Heer ontvang het” (Gesang 230) het uit die Sionsgesange van die NG Sendingkerk gekom, en gou ’n gunsteling onder kerklidmate geword vanweë die uiters singbare melodie. Dit was ook een van die min gesange met ’n refrein. Daar is min liedere uit die eerste twee Gesangboeke wat werklik inheemse melodieë bevat het. Een daarvan was “Gods wet vra enkel liefde” (Gesang 262), wat as “Die som van Gods gebooie” deur PK de Villiers gekomponeer is. Een van die mees geliefde liedere in die 1978-Gesangboek is “Die Onse Vader” (Gesang 294), wat reeds in die Halleluja verskyn het, maar in gewildheid toegeneem het nadat dit deel van die Gesangboek geword het. Die herkoms van dié melodie, die langste in die Gesangboek, is nog onbekend, en as die bewering dat dit dalk van Engelse of Skotse oorsprong is, die waarheid is, is dit eienaardig dat dit nog nooit in ’n ander bundel voorgekom het nie.
Die woorde van “God bly met u waar u ook mag gaan” (Gesang 298), is deur Jeremiah Eames Rankin geskryf, maar die wysie wat algemeen gesing word, en ’n refrein insluit, is laas in Hallelujalied 482, “God sy met u tot ons weer ontmoet”, gebruik. Die melodie wat ons in die kerk sing, is ’n komposisie van R Vaughan Williams. Nog ’n lied wat oorspronklik ’n Sionsgesang was, is “God is hier teenwoordig” (Gesang 311), wat as “God is teënwoordig” in die Halleluja opgeteken is. Dr. IL de Villiers het dit na “God is hier teenwoordig” verander. Die bekende Engelse gesang, “The church’s one foundation”, het ds. Attie van der Colff geïnspireer om die teks vir “Op vaste fondamente” (Gesang 333) te skryf, en die uiters singbare wysie is met “O Christus ons verlange” (Gesang 80) gedeel. Dit was ’n komposisie van Samuel Sebastian Wesley, die bekende John Wesley se kleinseun. Die laaste lied in die 1978-Gesangboek was “Aan U o God my dankgesange” (Gesang 353), wat ook as “Die Aandgesang” bekendstaan. Volgens dr. Gawie Cillié was dit ’n gepaste lied om dié Gesangboek mee af te sluit.
Die 1978-Gesangboek was 23 jaar lank in gebruik, maar voordat dit deur die Liedboek van die Kerk vervang is, het daar groot veranderinge in kerkmusiek plaasgevind.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.