Prys die Heer met blye galme deel 3
Nadat die tweede Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek in 1978 in gebruik geneem is, was die tyd reg vir verdere vernuwing in Afrikaanse kerkmusiek. Dit het veral gebeur nadat die predikant en sanger Jan de Wet dit gewaag het om met ’n kitaar op die kansel te verskyn.
Hoewel hy aanvanklik onder kritiek moes deurloop, het dit daartoe gelei dat ’n nuwe sangbundel met meer kontemporêre liedere, die Jeugsangbundel, saamgestel is. Hierdie sangbundel het in 1984 verskyn en ’n kombinasie van nuutskeppings en bekende melodieë met nuwe Afrikaanse woorde bevat. Sommige daarvan het aanklank gevind, ander nie. Onder die bekende wysies waarvoor daar nuwe Afrikaanse woorde geskryf is, is “To God be the glory” (“Aan God al die eer”), “Away in a manger” (“Al was ek nie daar nie”), “Creation’s hymn” van Beethoven (“Die hemel roem”), “Amazing grace” (“Genade onbeskryflik groot”), “Ode to joy” (“Praat ek mense- ‘eng’letale”), “How great Thou art” (“O Heer my God”) en “Kumbaya” (“Wees genadig, Heer”).
Daarbenewens is daar ook ’n aantal splinternuwe liedere ingesluit; nie net met bestaande wysies nie, maar ook nuutskeppings. Onder die nuutskeppings was “Aan die Vader dank en ere” (geskryf deur dr. Gavin Meistre), “Here ek sal U loof”, “Loof die Heer Hy is goed”, “Ek wil die Here loof” (laasgenoemde twee is gewoonlik saam gesing), “Loof Hom met die tromme”, “My enigste troos” (geskryf deur André Steyn), “Ek is bly”, “Ek was eensaam en verlaat”, “Ons aanvaar jou met die liefde van ons Heer”, “Maak die Heilige Gees ons almal een”, “Hy is Heer” en “Saam wil ons die Here prys” (’n kanon in vier dele). Daar was ook ’n aantal nuwe kinderliedere, soos “Kyk hoedat die voëltjies vlieg”, “Daar’s vissies in die water” en “Vandag is my verjaarsdag”. Daar was ook ’n paar nuwe liedere op minder bekende bestaande wysies, soos “Prys die Heer alle volke en nasies”, “Sing halleluja”, “Aan Jesus Koning al die eer”, “Ons loof U vir al U handewerke”, “Jesus groot bo almal”, “O diepte van die wysheid” en “Duisende getuies”. Van die ou bekende Hallejulaliedere het met nuwe tekste herleef, onder meer “Staan op staan op vir Jesus” (“Die eis wat Jesus stel”), “Voorwaarts Christenstryders” (“Soek in God jou sterkte”), “Ere sy God U die bron van ons lewe” (“Eer aan die Vader wat alles gemaak het”), “Doen slegs U wil Heer” en “U het die brood gebreek”. Die “Magaliesburgse Aandlied” is vir die eerste keer in ’n amptelike kerksangbundel ingesluit, maar met nuwe woorde.
Vier jaar later is ’n nuwe sangbundel, Sing onder mekaar, vir gebruik in formele eredienste, in gebruik geneem. Nie net is ’n paar van die liedere uit die Jeugsangbundel aangepas nie, maar weer eens is ’n paar nuwe liedere ingesluit. Nuwe woorde vir die lied “To God be the glory”, is geskryf; dit het bekend gestaan as “Bring lof aan die Vader”. Twee liedere wat ook nuwe woorde gekry het, was “Staan op staan op vir Jesus” (“Die Heer oor al wat lewe”) en “Doen slegs U wil Heer”. Een van die mooiste nuwe Kersliedere was “Ere aan God”, waarvoor Franz Schultz die melodie geskryf het. Ds. Attie van der Colff het nuwe woorde vir die lied “Guide me oh thy great Jehova” geskryf; die gevolg was “Here Redder groot en magtig”; hy was ook verantwoordelik vir nog ’n nuwe teks vir die “Magaliesburgse Aandlied”. Die Hallelujaliedere “Lei vriend’lik lig” en “Nader my God by U”, wat sedertdien nie weer in ’n amptelike kerksangbundel ingesluit is nie, het met nuwe woorde in Sing onder mekaar voorgekom. Daar was slegs 47 liedere in Sing onder mekaar; heelwat minder as in enige van die vorige kerksangbundels wat tevore of sedertdien verskyn het.
Tien jaar nadat die eerste Jeugsangbundel verskyn het, is die tweede een in gebruik geneem. Baie van die liedere in die eerste Jeugsangbundel en Sing onder mekaar het oorvleuel en nie al die liedere in die eerste Jeugsangbundel het regtig byval gevind nie. Een nuwe lied wat sonder twyfel die kol getref het, was Braam Hanekom se inheemse verwerking van Psalm 47, “Alle volke klap jul hande”, wat vinnig ’n gunsteling by oud en jonk geword het. Volgens die bladmusiek in die Jeugsangbundel 2 was hierdie lied nie geskik vir orrelbegeleiding nie, maar dit het nie saakgemaak nie. Nadat Jannie du Toit ’n groot treffer met die lied “Gee ons vrede” gehad het, is die refrein van daardie lied afsonderlik in die Jeugsangbundel 2 ingesluit. Nie alle Suid-Afrikaanse komposisies is noodwendig Afrikaans nie; André Kempen se lied, “I lift my hands to the coming King”, was een daarvan. Nadat verskeie gemeentes probeer het om dit in Afrikaans te vertaal, het Braam Hanekom met ’n amptelike Afrikaanse weergawe, “Ek roem U Naam”, wat in die Jeugsangbundel 2 ingesluit is, vorendag gekom. Weer eens was daar ’n nuwe weergawe van die lied “Blye versekering”, met die titel “Ek weet vir seker”. Die bekende Kerslied “Joy to the world” het nuwe Afrikaanse woorde gekry en as “Eere aan God bring Hom die eer” bekendgestaan. Vir die eerste keer is daar ook liedere met tale anders as Afrikaans ingesluit; hoewel daar byna altyd Afrikaanse lirieke daarvoor ook geskryf is. Een daarvan is die lied “Magnificat”, ’n kanon na aanleiding van Maria se lofsang. Die oorspronklike teks, “Magnificat”, is aangevul deur die Afrikaanse teks, “Groot is die Heer”. Dit was ook die eerste Taizé-lied wat in ’n amptelike Afrikaanse kerksangbundel ingesluit is.
Een van die aanbiddingsliedere wat vir die eerste keer ingesluit is en gereeld gesing is, was “Halleluja U is Koning”, waarvan verskeie ander weergawes ook al deur veral jeuggroepe geskep is. Nog ’n lied wat dadelik gewild geword het, was “Helder skyn U lig vir die nasies”, op die wysie van Chris Christrenson se komposisie “Song for the nations”. Hierdie komposisie is een van ’n paar wat uit die 1980’s kom, en ontstaan het nadat die oorspronklike Jeugsangbundel in gebruik geneem is. Graham Kendrick se komposisie “Shine Jesus shine” het ook in die 1980’s ontstaan; Breda Ludik het dit in Afrikaans vertaal onder die titel “Here Jesus U skyn oor almal”. Die tweede Taizé-lied wat ingesluit is, is “Jesus O dink aan my”, Berda Ludik se Afrikaanse vertaling van “Jesus remember me” na aanleiding van Lukas 23:42. Een lied wat uit die Koorboek vir ons Afrikaanse kerke kom, en vir die eerste keer in ’n amptelike sangbundel ingesluit is, is die Franse Paaslied “Kom laat ons almal vrolik”. “Kom prys Hom alle nasies” is nog ’n Afrikaanse weergawe van ’n Taizé-lied, naamlik “Laudate omnes gentes”. Die samestellers van die tweede Jeugsangbundel het die logiese ding gedoen en die twee liedere “Loof die Heer Hy is goed” en “Ek wil die Here loof”, albei geskryf deur Enine Niemand, in een lied gekombineer. Dit het seker een van die gewildste lofliedere onder oud en jonk geword. Die een lied waarvoor Afrikaanse woorde dalk ’n probleem was, was Jack Hayford se komposisie “Majesty”, maar Emma Badenhorst se vertaling, “Majesteit”, is in die Jeugsangbundel 2 ingesluit. Die lied “Sing halleluja” wat in die eerste Jeugsangbundel voorgekom het, is weer ingesluit, maar met twee bykomende verse. Martin Nystrom se komposisie “As the deer”, na aanleiding van Psalm 42, was nog ’n lied waarvoor daar meer as een Afrikaanse weergawe bestaan het, maar Jan de Wet se weergawe, “Soos ’n wildsbok”, is deur die kerk aanvaar en ingesluit. Nog ’n kontemporêre sanger en liedjieskrywer wat ’n bydrae gelewer het, was Ruben Lennox, wat treffers vir onder meer Anneli van Rooyen en Leon Schuster geskryf het. Hy het Donna Adkins se komposisie “Gloify thy Name” in Afrikaans vertaal in die lied “Vader ons eer U”, waarin die Drie-Eenheid van God besing word. Nog ’n moderne lied waarin die Drie-Eenheid besing word, is “Vader, Seun, Heil’ge Gees”, Braam Hanekom se Afrikaanse weergawe van Frank Hernandez se “Praise anthem”. Een lied wat al jare tevore deur veral jeuggroepe gesing is en eintlik van twee bekende teksverse is, is “Want so lief het God die wêreld gehad”, na aanleiding van Johannes 3:16 en Spreuke 3:6. Weer eens was daar ’n aantal kinderliedere, maar die enigste nuwe een was “’n Man was van Jerusalem na Jerigo op pad”, na aanleiding van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.
Sing onder mekaar en die tweede Jeugsangbundel was onderskeidelik dertien jaar en sewe jaar in gebruik voordat dit deur ’n splinternuwe sangbundel, wat ook die 1978 Psalm- en Gesangeboek vervang het, opgevolg is.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.