O Boereplaas

Hoewel “O Boereplaas” as ’n Afrikaanse volksliedjie beskou word, is dit, soos baie soortgelyke liedjies, nie volkseie nie.

Die oorspronklike weergawe daarvan is “O Tannenbaum” (O denneboom), ’n lied wat deur Ernst Anschütz geskryf is, en gebaseer is op ’n volksliedjie wat uit die 16de eeu dateer. Dit word deesdae as ’n Kerslied gesing, hoewel die woorde nie na Kersfees verwys nie. Die woorde gaan oor die feit dat ’n denneboom se blare immergroen is en dat dit in teenstelling is met die ontroue minnaars waarvan daar in die lirieke gesing word. Die gebruik van ’n denneboom vir Kersfees het in die 19de eeu ontstaan, en sedertdien is dit waarmee hierdie lied geassosieer word.

Die Afrikaanse woorde is deur CF Visser geskryf en verwoord die Afrikaner se sentimentele smagting na die platteland, wat veral na 1994, baie jare nadat dié lirieke geskryf is, sterk na vore gekom het. Die derde vers is ook, volgens ED Ferreira, die redakteur van -Talig, die nuusbrief van die ATKV se taalafdeling, een van die mooiste liefdesverklarings vir Afrikaans tot nog toe.

Op 29 April 1961 is die première van die rolprent Doodkry is min by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou; daar was 40 000 mense teenwoordig, die grootste aantal mense tot nog toe by ’n rolprentvertoning. Die Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger Jamie Uys het dit in opdrag van die FAK vervaardig en die oud-Staatspresident CR Swart het die geleentheid geopen. Die rolprent het die ontstaan, ontwikkeling en stryd om voortbestaan van die Afrikaanse taal sedert 1652 uitgebeeld, en die internasionaal bekende sopraan Mimi Coertse het “O Boereplaas” tydens die première gesing.

Sedertdien het daar opnames deur verskeie ander kunstenaars verskyn, onder meer Ivan Rebroff, Jannie Moolman en Harald Richter saam met Lieb Bester.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.