Mannetjies Roux
Dit gebeur nie gereeld dat ’n sportgebeurtenis ’n trefferliedjie inspireer nie, maar Chris Torr het gewys dat dit wel moontlik is.
Chris is getroud met die legendariese sangeres Laurika Rauch, en hy het een van haar groot treffers geskryf na aanleiding van ’n drie wat die Springboksenter Mannetjies Roux in 1962 teen die Britse Leeus in Bloemfontein gedruk het.
Francois du Toit Roux is op 12 April 1939 in Victoria-Wes in die Noord-Kaap gebore, het aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer, en daarna aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy het sy bynaam gekry by ’n huishulp wat sy astrante houding as oulik bestempel het. In 1960 het hy sy toetsdebuut teen Wallis as vleuel gemaak; die Springbokke het daardie toets met 3-0 gewen. In 1968 was hy deel van die Springboktoer na Frankryk, en hy was een van vyf spelers wat van die Franse Hugenote afgestam het van wie daar ’n foto op die bekende Champs Elysée geneem is. Die ander was Frik du Preez, Tonie Roux, Eben Olivier en die kaptein van daardie span, dr. Dawie de Villiers. Hy was deel van die toer deur Brittanje in 1969/70 wat deur betogers ontwrig is; daar word vertel dat hy een betoger in die agterstewe geskop het en ’n bal na ’n ander een geslinger het. Hy het later ’n vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag geword en Harvard-vlieëniers opgelei.
Mannetjies het aanvanklik vir die Westelike Provinsie rugby gespeel, maar ook later vir Noord-Transvaal. In 1970 was hy die kaptein van die span van Griekwaland-Wes wat die Curriebeker gewen het. Hy het altesaam 27 toetse vir die Springbokke gespeel; ses op vleuel en 21 op senter, en ses drieë gedruk. Hy was vinnig, en ten spyte van sy grootte het hy ook baie goed verdedig; in 1962 het hy tydens Noord-Transvaal se wedstryd teen die Britse Leeus die Leeu-losskakel Richard Sharp se wangbeen gebreek.
In 1990 het Laurika Rauch die album Stuur groete aan Mannetjies Roux opgeneem, en twee weergawes van die titelsnit ingesluit, een met volle orkesbegeleiding en een waarop net haar destydse klavierspeler Wessel van Wyk haar begelei het. Eersgenoemde het haar grootste treffer sedert Koos du Plessis se komposisie “Kinders van die wind” geword. Daar word ook gesê dat dit die eerste Afrikaanse album was wat op CD vrygestel is. Later is daar ook ’n rolprent met dieselfde titel vrygestel, waarin Steffie le Roux die hoofrol vertolk het. In 2011 het Laurika dié liedjie voor ’n Super Rugby-wedstryd tussen die Bulls en die Stormers op Loftus Versfeld gesing.
Mannetjies en sy vrou woon vandag weer op Victoria-Wes waar hulle ’n winkel en ’n museum bedryf.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.