Liewe Heksie
Sedert die 1960’s word kinders van alle ouderdomme bekoor deur Verna Vels se fiktiewe karaktertjie wat mense laat skaterlag met haar onbeholpe mannerismes en gesukkel met groot woorde.
Verna het Liewe Heksie aanvanklik geskep as ’n karakter van haar verhaal Blommie Kabouter en die heks wat so baie vergeet het, maar Liewe Heksie, wie se regte naam Levinia was, het gou die hoofkarakter van die storie geword. Sy en haar medekarakters het in Blommeland gewoon.
Blommeland se koning was Koning Rosekrans, wat haar altyd Levinia genoem het. Sy kon nooit sy naam reg sê nie, en het hom onder meer Rosebaard, Rosedoring of sommer net Koning Majesteit genoem. Hy was gereeld kwaad vir haar, maar telkens sy dreigement om haar uit Blommeland te verjaag, teruggetrek. Sy boodskapper was Kwaaitjie Kabouter, en Kwaaitjie se klein boetie was Kleinkwaaitjiekabouter, wat sy sommer Kwaaibabatjie genoem het.
Daar was twee katte in Liewe Heksie se lewe. Karel Kat het in die stad gewoon en gereeld in Blommeland gekuier. Nadat Koning Rosekrans gekla het dat die muise sy tone gebyt het (soos Liewe Heksie gesê het, het die myse sy tone gebyt), het Karel besluit om sy nefie Matewis vir haar te gee.
Die Silwer Roos was die kosbaarste skat in Blommeland, maar die Geel Heks en haar handlangers, die gifappeltjies Kerrie en Borrie, het gereeld probeer om dit te steel. Liewe Heksie wou baie graag maan toe gaan, en op ’n dag het die gifappeltjies haar na hul land toe ontvoer en haar laat glo dat sy op die maan was.
Die enigste ding wat Liewe Heksie kon toor, was ’n perd met die naam van Griet, maar soms het sy die woorde vergeet wat hom sou laat verdwyn. Griet moes Liewe Heksie ’n paar keer uit die moeilikheid help.
Liewe Heksie se verhale is op verskeie maniere uitgereik. Nie net was dit in boekvorm beskikbaar nie, maar daar was ook ’n paar langspeelplate wat die verskillende stories bevat het. Met die koms van televisie is die reeks onder regie van Louise Smit verfilm. Die verskillende stories is later op videokasset en DVD uitgereik. Verna Vels het self die meeste van die stemwerk gedoen, maar twee bekende radio- en televisiepersoonlikhede was ook daarby betrokke. Die radio-omroeper Roelf Jacobs was verantwoordelik vir Karel Kat se stem terwyl Riaan Cruywagen die rol van die koning, asook die twee gifappeltjies vertolk het. Later is daar nuwe stories, onder meer “Liewe Heksie en die rekenaar” en “Liewe Heksie en die rugbywedstryd” bygevoeg.
Met die bekendstelling van die Liewe Heksie-omnibus by Aardklop in 2011 was Verna Vels teenwoordig, en die gehoor het gelê soos hulle gelag het terwyl sy ’n aantal stories voorgelees het. Verna is op 21 Augustus 2014 oorlede na ’n stryd met borskanker. Beeld se hoofopskrif na aanleiding van haar afsterwe was: “Vlae in Blommeland hang halfstok.”
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.