Kinders van die wind
In 1979 het die Musiek-en-Liriekbeweging ’n rewolusie in Afrikaanse musiek veroorsaak toe al hoe meer oorspronklike liedjieskrywers na vore begin tree het. Die grootste Afrikaanse treffer van daardie jaar het uit hierdie beweging gekom.
Die rolprentvervaardiger Katinka Heyns was besig met die televisiereeks Phoenix en Kie toe sy op soek was na ’n sangers wie se sangstem vir Jana Cilliers se karakter gebruik kon word. Katinka het reeds besluit om Koos du Plessis se musiek te gebruik vir haar televisieprogram Fyn net van die woord, en sy komposisie “Kinders van die wind” sou die temaliedjie van Phoenix en Kie wees. Jana het haar vriendin Laurika Rauch voorgestel, en haar stem is op die ou einde gebruik. Dit was die begin van ’n uiters suksesvolle loopbaan wat tot vandag nog aanhou. Op 14 September 1979 tree Laurika se opname van “Kinders van die wind” in die 17de plek tot Springbok Radio se Top 20 toe; dit haal die derde plek en bly 13 weke lank op die trefferslys. Koos du Plessis het dit ook op sy debuutalbum Skadu’s teen die muur opgeneem.
Die sukses van hierdie snit het gelei tot die uitreiking van Laurika se album Debuut, wat ook die treffers “Aai aai”, “Die mense wat ek liefhet”, “Vergeet om my te vergeet”, “Toe maar die donker man” en “Straattroebadoere” bevat het.
“Kinders van die wind” is nie net in die FAK-Liedjietuin opgeneem nie, maar ook in die nuwe FAK-Sangbundel. Dit is in 2013 as Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie aangewys, en is al deur kunstenaars soos Theuns Jordaan, Piet Smit, Coleske en Coffeesnobs opgeneem. Jannie du Toit het egter meer as dit gedoen; hy het toestemming by Koos se weduwee gekry om dit in Nederlands te vertaal en hierdie opname is op sy album Volgende winter ingesluit.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.