Jan Pierewiet

Jan Pierewiet is seker een van die bekendste Afrikaanse volksliedjies.

Die woorde is geskryf deur CJ Langenhoven, en “pierewiet” kom van “pirouiette” af, naamlik om in die rondte te draai op jou tone terwyl jou ander been gebuig is. Gewoonlik word daar net een vers gesing, maar die hele liedjie bestaan uit vier verse. Mimi Coertse het die volledige weergawe opgeneem vir die album Mimi Coertse en die Afrikaanse lied, wat ter viering van die 50ste bestaansjaar van die FAK in 1979 vrygestel is.

“Jan Pierewiet” is ook een van verskeie Afrikaanse volksliedjies wat deur Josef Marais in Engels vertaal is, hoewel die woorde van dié van die Afrikaanse weergawe verskil. Die Engelse weergawe begin met die woorde “♫Jan Pierewiet, Jan Pierewiet, poor Jannie full of shame; Jan Pierewiet, Jan Pierewioet, he doesn’t like his name♫”. Marais is in Suid-Afrika gebore en het Suid-Afrika in die 1920’s verlaat om in Londen te gaan woon. Hy het gehoor dat die bekende platemaatskappy His Master’s Voice belanggestel het om Afrikaanse liedjies op te neem en sy dienste aangebied.

Toe die BBC die suksesvolle opnames gehoor het, het hulle hom gevra om die liedjies in Engels te vertaal vir Britse gehore. Dit is deur die BBC uitgesaai en in 1939 het NBC hom genooi om ’n radioprogram in New York aan te bied. Onder die ander liedjies wat Marais vertaal het, was “Suikerbossie”, “Bobbejaan klim die berg”, “Sarie Marais” en “So ry die trein”.

Jan Pierewiet was ook die naam van ’n sangbundel van Nederlandse volksliedjies wat van 1933 tot 1972 verskeie kere herdruk is. Daar is 115 liedjies ingesluit, en mettertyd is sommige liedjies weggelaat en ander bygevoeg. Die belangstelling in dié sangbundel het afgeneem nadat die jeug aan meer moderne musiek blootgestel is.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.