Die Stem van Suid-Afrika
“Die Stem van Suid-Afrika” was veertig jaar lank Suid-Afrika se amptelike nasionale lied.
Hoewel dit op 31 Mei 1928 die eerste keer in die openbaar gesing is tydens dieselfde geleentheid as wat die Suid-Afrikaanse vlag die eerste keer in die openbaar gehys is, is dit eers op 2 Mei 1957 as nasionale lied aangeneem. Dit was ook die nasionale lied van Suidwes-Afrika totdat dié land in 1990 onafhanklik geword het. Suidwes-Afrika was voor die tyd onder Suid-Afrikaanse mandaat en na onafhanklikheidswording het Namibië; soos die land nou bekendstaan, ’n nuwe nasionale lied gekry.
Met Uniewording op 31 Mei 1910 het Afrikaans al hoe meer opgang begin maak en CJ Langenhoven het die gedig “Die Stem van Suid-Afrika” op 31 Mei 1918 by sy huis Arbeidsgenot in Oudtshoorn voltooi. Hy het self die gedig getoonset, en daarna as ’n “gesangetjie” verwys. Die assistent-redakteur van die Burger, HA Fagan, het die gedig geplaas nadat Langenhoven dit aan hom gewys het. Hy het dit anoniem geplaas, maar hoewel die teks groot byval gevind het, het die toonsetting nie dieselfde positiewe reaksie uitgelok nie.
Langenhoven was op soek na ’n wysie en het op 5 Augustus 1918 ’n uitnodiging aan komponiste gerig om toonsettings voor te lê. In Mei 1919 het ds. ML de Villiers sy eerste poging voorgelê, maar Langenhoven was nie tevrede nie. Nogtans het hy toestemming aan De Villiers, asook onder meer Gideon Fagan en Stephen Eyssen verleen om hul toonsettings te publiseer. In 1921 het ds. De Villiers met ’n nuwe wysie vorendag gekom terwyl hy in sy pastorie in Simonstad gewerk het. Hy het dit op ’n familieklavier gespeel en die musiek neergeskryf. Hy het in die daaropvolgende jare veral skole besoek en die lied landwyd bekendgestel. Die lied is spontaan as volkslied deur Afrikaanssprekendes aanvaar, maar vir amptelike doeleindes is “God save the queen” steeds gebruik.
Mettertyd het daar ’n begeerte onder Engelssprekende Suid-Afrikaners ontstaan vir ’n Engelse vertaling van “Die Stem”. Met die opening van die parlementsitting op 11 Februarie 1938 het Die Eerste Minister, genl. JBM Hertzog opdrag gegee dat “Die Stem” saam met “God save the king” gespeel moes word, al het nie een van hierdie twee liedere amptelike status geniet nie. Hertzog het dit gemotiveer deur te verklaar dat “Die Stem” ’n eg Suid-Afrikaanse lied is en geesdriftig deur Afrikaanssprekendes ontvang is. Daarna is dié twee liedere saam gespeel, maar die regering wou dit om politieke redes nie as nasionale lied aanvaar nie. Met die Simboliese Ossewatrek van 1938 en die geesdrif wat daardeur gewek is, het opnuut die aandag by “Die Stem” as ideale nasionale lied bepaal. By die hoogtepunt van die feestelikhede wat op 3 September 1938 in Oudtshoorn gehou is, is die begeerte by ’n vergadering uitgespreek dat “Die Stem” as volkslied onder Afrikaanssprekendes aanvaar moes word. Die erkenning as amptelike nasionale lied sou egter afhang van die verkryging van ’n teks wat vir Engelssprekende Suid-Afrikaners aanvaarbaar sou wees.
Tussen 1939 en 1948 het dr. DF Malan as leier van die opposisie herhaaldelik gepleit dat “Die Stem” as amptelike nasionale lied aanvaar moes word. In Mei 1948 het die Nasionale Party onder leiding van dr. Malan aan bewind gekom, en by die aanvang van die viering van 300-jarige vestiging in Suid-Afrika het dr. Malan ’n komitee onder voorsitterskap van appèlregter HA Fagan benoem om Engelse tekste van “Die Stem” te beoordeel. Daar was 226 moontlike vertalings en die regering het ’n definitiewe teks wat daaruit saamgestel is, aanvaar. Die ironie van die saak was dat die regering ’n vertaling erken het van ’n lied wat nog nie eens as nasionale lied aanvaar is nie.
Met ’n erkende Engelse vertaling is die laaste struikelblok in die pad van amptelike aanvaarding uit die weg geruim. Op 2 Mei 1957 het die destydse Eerste Minister, adv. JG Strijdom, verklaar dat “Die Stem” só diep gewortel is onder Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners dat dit as amptelike nasionale lied erken kon word. “Die Stem” was die enigste amptelike nasionale lied tot in 1994, toe die Enoch Sotonga-komposisie “Nkosi sikhelel’i Afrika” as bykomende nasionale lied aanvaar is. Op 10 Oktober 1997 is daar aangekondig dat ’n nuwe nasionale lied, wat dele van albei hierdie liedere sou bevat, aanvaar is, en dit is die nasionale lied wat tans in Suid-Afrika gesing word.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.