Van die os op die jas – Pietman Geldenhuys
Toe “Peter Mitchell” die Skotse volkslied “Flower of Scotland” op die kykNET-program Toks ’n Tjops gesing het, het hy die Suid-Afrikaanse publiek ’n rat voor die oë gedraai, maar op die beste moontlike manier.
Hy het almal laat glo dat hy nie net Engelssprekend is nie, maar van Skotland afkomstig is vanweë sy perfekte Skotse aksent. Niks is egter verder van die waarheid nie, wat Peter Mitchell se naam is eintlik Pietman Geldenhuys; hy is op Prince Alfred’s Hamlet in die Boland gebore en het aan Boland Landbou gematrikuleer. Hy was drie en ’n half jaar lank in Engeland, waar hy raakgesien is en as straatmusikant opgetree het totdat sy visum verval het.
Nadat Pietman twee Engelse albums as Peter Mitchell uitgereik het, het sy eerste Afrikaanse album, Van die os op die jas, onder sy eie naam verskyn. Al die snitte op die album is sy eie komposisies en hy het al die woorde geskryf. Met die titelsnit kom jy reeds agter dat jy hier te doen het met ’n uiters talentvolle musikant wat nie sommer net elke modeneiging navolg nie, maar liedjies met inhoud skryf. Die titel van die album is natuurlik ’n uitdrukking wat “om die onderwerp te verander” beteken. Die kitaarwerk op “Kan jy nou meer” is baie goed; die lirieke is iets besonders, want dis beslis nie jou gewone liefdesliedjie nie. “Reën” is ’n pragtige snit wat by enigiemand wat van reën afhanklik is, byval sal vind. “Aan jou lippe hang” is ’n mooi snit met goeie akoestiese kitaarwerk. Die woorde van “Skerp tandjies” is lekker tong in die kies, veral dié wat van visvang hou, sal dit geniet. “Kom hurk by my” is ’n baie mooi liefdesliedjie wat weer eens nie as konvensioneel beskou kan word nie. Mauritz Lotz bewys ook hoekom hy een van ons land se beste kitaarspelers is.
Op “Judas se haan” sing hy van een geliefde wat ’n ander verraai; maar dit was Petrus wat Jesus drie keer verloën het en gemaak het dat die haan gekraai het. Judas het Jesus wel verraai. “Die liefde verstaan my” is nog ’n baie mooi liefdesliedjie. Pietman bied Oppiestoep saam met Andries Vermeulen aan; Bok van Blerk en Valiant Swart het “Bakbeen anties” oorspronklik gesing; Andries het dit intussen ook gedoen maar nou het Pietman dit self ook opgeneem. Met hierdie snit wys hy dat hy ’n skerp humorsin het. Vir wat dit ook mag werd wees, dit is ’n baie goeie snit met lirieke wat jou laat dink. “Die weegskaal” is ’n besonder goeie snit; weer eens is die lirieke iets besonders en die kitaarwerk uitstekend. “Karoo” is ’n baie kort instrumentale snit waarmee die album afsluit; jy luister nog lekker, dan is dit verby.
Met hierdie album bewys Pietman dat hy sonder twyfel een van ons land se beste kunstenaars is; hy kan ewe goed in Engels en Afrikaans skryf en sy lirieke het meer om die lyf as die gemiddelde Afrikaanse trefferliedjies. Hy kan hierdie album nie gou genoeg met ’n nuwe een opvolg nie!
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.