Lizandra Winter
Daar is deesdae maar min kunstenaars vir wie musikale integriteit belangriker as roem en geld is, en as dit nie gebeur het dat een van ons land se voorste kunstenaars toevallig kennis gemaak het met ’n opkomende sangeres nie, sou daar dalk een kunstenaar minder gewees het van wie dit gesê kan word.
Joshua Na Die Reën is tans besig met sy derde album, en hy en Lizandra von Hagen het mekaar toevallig ontmoet toe hulle albei aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie gestudeer het. Lizandra het besluit om haar verhoognaam na Lizandra Winter toe te verander en sy en Joshua het saam begin optree. Nadat sy eers ’n agtergrondsangeres was, het hy besluit om haar die kans te gee om haar gelyknamige debuutalbum vry te stel.
Met die eerste snit, “Geraas”, kom ’n mens agter dat sy ’n kunstenaar is wat nie agter modefoefies aanhardloop nie en dat musiek vir haar ’n saak van groot erns is. Hierin sing sy van die verskil wat musiek in ’n mens se lewe maak. Ironies genoeg het Joshua Na Die reën, wat ook klavier speel wanneer sy saam met ’n orkes optree, die snit “Winter kom” geskryf, aangesien winter haar gunsteling seisoen is, vandaar haar verhoognaam. “Tranedans”, wat sy saam met Joshua Na Die Reën en haar man, Rynho geskryf het, is op ’n ware gebeurtenis gebaseer en die lirieke vertel ’n verhaal van depressie. Die begin was die eerste radiotreffer vanaf die album; dalk een van die beste Afrikaanse trefferliedjies wat die afgelope tyd vrygestel is. Lizandra het dit self geskryf en die kitaarwerk is doodeenvoudig skitterend.
Lizandra het “Fluister” vir ’n vriendin van haar met die naam van Adriana geskryf; die boodskap is egter universeel. Baie mense kan assosieer met die woorde van “Bekende vreemdeling”, want soms gebeur dit dat ’n mens iemand vir die eerste keer ontmoet maar tog dadelik aanklank by daardie persoon vind of voel asof jy daardie persoon reeds ken. “Kleurblind” is seker een van die sterkste boodskappe teen rassisme wat ’n mens kan uitstuur en dis tyd dat dit die wêreld ingestuur word. “Jy sien my” is nog ’n hoogtepunt op die album; sy het dit geskryf en hierin sing sy van iemand wat regtig weet wat in jou binneste aangaan. Lizandra en haar man het “Liefde van ’n kind” vir hul dogtertjie geskryf en dit is ’n pragtige snit. Daar is net een snit op die album wat nie nuut en oorspronklik is nie. Jannie du Toit en Laurika Rauch het Christa Steyn se komposisie “Ek wil vir jou” in dieselfde jaar opgeneem en dit was ’n treffer vir albei van hulle (luister gerus hier na hulle weergawe). Lizandra het ’n pragtige weergawe saam met Joshua Na Die Reën opgeneem en dit kan van voor af ’n treffer word. “Sielsvryheid” is ’n lang snit maar dit is iets besonders. “Liefde wen” is nog ’n hoogtepunt en die boodskap van dié snit is dat liefde alles behoort te oorwin. Die laaste snit op die album is “Afrika-grond” en die boodskap van hierdie snit is dat Lizandra ’n kind van Afrika is.
Nie net is Lizandra ’n uitstekende sangeres en liedjieskrywer nie; sy werk ook saam met ’n aantal van ons land se beste musikante, onder meer die baskitaarspeler Rixi Roman, die vioolspeler Raziella Kosterman, en die kitaarspeler Nathan Smith; om van Joshua Na Die Reën nie te praat nie. Dit alles is ’n bewys dat sy ’n kunstenaar is wat ernstig opgeneem behoort te word. Daarom kan hierdie album eenvoudig nie sterk genoeg aanbeveel word nie; dit is sonder twyfel een van die heel beste Afrikaanse albums wat in ’n baie lang tyd vrygestel is.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.