Alles – Riaan Grobler

Deur die jare was daar ’n aantal radio-omroepers wat besluit het om ook te sing, maar hoewel sommige van hulle, soos Pieter Koen, Pierre Rossouw en Lance James hulself ook as sangers kon vestig, het nie almal ewe veel sukses behaal nie.
Een van dié wat ewe veel sukses as omroeper as sanger behaal het, is Riaan Grobler, wat voorheen aan Radio Rippel en Groot FM verbonde was en veral die trefferslyste van hierdie twee radiostasies aangebied het. Hy is nou ’n omroeper by Pretoria FM en intussen het sy jongste CD, Alles, ook onlangs verskyn.
Die eerste snit, “Sê ja”, is ’n Europese melodie met Afrikaanse lirieke deur Michael de Lange. Die titelsnit is een wat beslis trefferpotensiaal het; weer eens is dit ’n oorsese melodie met lirieke deur Michael de Lange. Rudi Claase het met trefferliedjies soos “Tienduisend trane” van Manuel Escorcio en Rina Hugo en “Eerste woorde” van Cordelia gewys dat hy die vermoë het om iets besonders van iemand anders se lewensverhaal te maak. Met “Die boek” het hy dit weer reggekry; Rudi het dit geskryf na aanleiding van die dood van Riaan se ma. Van ma gepraat; die volgende snit is “Wonderlike liefde van ’n ma”; ’n komposisie van een van die mees onderskatte liedjieskrywers in Afrikaanse musiek, Mynie Grové, van wie ’n mens heeltemal te lank laas gehoor het. Rinel Day is ’n goeie vriendin van Riaan, en hulle tree al hoe meer gereeld saam op. “Ons is liefde” is een van twee snitte op die album wat hulle saam sing; Michael de Lange, wat met Rinel getroud was, het die Afrikaanse woorde geskryf. “Kom ons dans”, nog ’n snit met woorde deur Michael de Lange, is nog ’n moontlike treffer.
Riaan het ook ’n aantal snitte vanaf sy vorige album, Dis die liefde, ook op hierdie album ingesluit. Die eerste Engelse snit op die album is ’n baie goeie weergawe van Don Williams se treffer “It must be love”. “Gooi ’n bietjie lyfie” is ’n oorspronklike komposisie van De Waal Bothma, en miskien sal dit nou die treffer word wat dit nog altyd moes wees. Aangesien Riaan jare lank al ’n radio-omroeper is, ken hy baie bekende persoonlikhede en daarom sou dit nie te moeilik wees om iemand te kry om saam met hom te sing nie. Juanita du Plessis span saam met hom op Bles Bridges se treffer “Laat my lewe, laat my liefhê”. “Dis die liefde” was die titelsnit van Riaan se vorige album, en dis jammer dat dit nog nie ’n groot treffer geword het nie. Nadia Beukes is eerder bekend as ’n aktrise en radio-en-televisieaanbieder maar daar is min mense wat weet dat sy kan sing. Haar pa is die opera-bariton Rouel Beukes. Nadia sing saam met hom op “Drie wense”, wat deur Werner Greeff geskryf is. Nadia kan gerus meer gereeld sing. Sarah Theron het die Afrikaanse woorde vir “Kinderjare” geskryf, en dit sal enigiemand na hul jonger dae laat verlang. Toe Dis die liefde aanvanklik vrygestel is, was “Rooi granaat” die eerste enkelsnit. “Mi amore” is die ander snit wat Riaan saam met Rinel sing; dit was ’n treffer toe dit aanvanklik vrygestel is. Sarah Theron het die Afrikaanse woorde vir “Jakarandastad” geskryf; ironies genoeg het dié snit ’n Europese klank, en die melodie is voorheen vir Guillaume se treffer “Somer in die stad” gebruik. Dit sou mos beter gewees het om ’n liedjie oor Pretoria te skryf met ’n oorspronklike melodie. “Karoonag” is met goeie rede as een van die gewildste Afrikaanse liedjies tot nog toe aangewys en dit was die begin van Coenie de Villiers se lang loopbaan as sanger en liedjieskrywer. Riaan sing dit saam met David Fourie. Die laaste snit is “Die nuwe Jerusalem”, wat ook al deur Rina Hugo opgeneem is. Maak nie saak wie dit sing nie; dit bly pragtig.
As jy nie reeds Dis die liefde in jou CD-versameling het nie, kan jy dit dalk oorweeg om hierdie album in die hande te kry. Daar is genoeg goeie snitte om dit die moeite werd te maak. Dis egter ’n jammerte dat daar soveel snitte op hierdie twee albums is wat oorvleuel. Hoe ook al, daar is geen twyfel dat Riaan homself as sanger gevestig het nie en dat sy gewildheid net verder sal toeneem nie.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.