15 jaar – Jak de Priester

In 2017 het Jak de Priester die vyftiende herdenking van die vrystelling van sy debuutalbum, Sally Willams Nougat, gevier met sy album met die gepaste titel 15.
Dit was nie ’n versameling van sy grootste treffers nie, maar eerder ’n nuwe album wat uitsluitlik bestaan uit liedjies wat hy self geskryf het. Hierdie album is intussen heruitgereik onder die titel 15 jaar, met ’n aantal weglatings en toevoegings.
Die eerste snit op hierdie nuwe album is een van die nuwe snitte, “Hey Christine”, wat die potensiaal het om ’n treffer te word. Dr. Victor sing saam met hom op “Reënboog oor Suid-Afrika”, en dis regtig jammer dat hy nie meer gereeld in Afrikaans sing nie. Hierdie liedjie is beslis ’n hoogtepunt en behoort ’n baie groot treffer te word, want dit sal jou lekker laat saamsing. Hierin sing hulle oor alles wat ons land maak wat dit is. “Drakensberg liefde” was ook op die vorige album en dit het gereeld radiolugtyd gekry. “Rigtinglose mense” is die enigste snit wat Jak nie alleen geskryf het nie; Koos Kombuis het dit saam met hom gedoen. Die woorde laat ’n mens dink, want dit beskryf mense soos hulle is. Nog ’n samewerking op die album is “Soen die reën”, waarop Steve Hofmeyr saam met hom sing. Weer eens is dit ’n snit met woorde wat meer om die lyf het as die gemiddelde kommersiële treffer. “Alles vir liefde” was ’n radiotreffer vanaf die 15-album en is weer op hierdie album ingesluit. “As is verbrande hout” is een van die mooiste snitte op die album, en hierop verwoord hy die uitwerking van die liefde baie goed. “Vriendskap se water” is ’n pragtige snit wat die waarde van vriendskap baie mooi verwoord. Bianca Pelser sing saam met hom op “Rose en Jack”. “Kleinmond gedig” is nog ’n mooi snit; Kleinmond is ’n kusdorp naby Hermanus in die Wes-Kaap.
Jak was die aanbieder van die kykNET-televisieprogram Reis na gister, en die voormalige Springbok-voorryman Toks van der Linde was een van die gaste in hierdie program. Op “Stuur liefde aan ou Toks” bring Jak hulde aan hom. Die lirieke van “Niemand neem hul kwalik” is effens tong-in-die-kies en ’n mens behoort dit nie te ernstig op te neem nie. “Bo blink boogie woogie” is ’n absolute hoogtepunt; die jazz-pianis Charl du Plessis speel saam op hierdie snit. Op “15 jaar met klavier en kitaar” kyk hy terug op sy musiekloopbaan tot dusver en sy vrou se ondersteuning deur die jare. “Boervrou (Vir Ma)” is ’n pragtige huldeblyk aan sy ma, en “Mika se song” is aan een van sy kinders opgedra. Jak was nog altyd lief daarvoor om liedjies te skryf wat op persoonlike ervarings gebaseer is, of wat hy aan diegene die naaste aan hom opdra. Dit is ’n bewys van sy integriteit as kunstenaar en as mens. “Halleluja-Kersfees” het ’n effense soul-klank, wat effens ongewoon in Afrikaans is en daarom lekker is om na te luister. Op die laaste snit, “Ek sny dit af”, bewys Jak dat hy ’n skerp sin vir humor het, want dit is gemik op enige vryersklong wat met sy dogter wil sukkel. Baie pa’s kan hul hiermee vereenselwig.
Met hierdie album het Jak weer bewys dat hy een van ons land se voorste kunstenaars is. Dis jammer dat twee snitte, naamlik “Hoener met die rooi skoene” en “Sporelied” nie op hierdie album ook voorkom nie, en dit beteken dat ’n mens regtig albei albums in jou versameling behoort te hê. Nogtans kan hierdie album baie sterk aanbeveel word vir diegene wat op soek is na Afrikaanse musiek met integriteit.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.