Lig – Coffeesnobs
Dit is nou al drie jaar sedert die Suid-Afrikaanse publiek kennis geneem het van die egpaar Marius en Vernette Wessels.
Omdat hulle lief is vir goeie koffie, soos dit duidelik geblyk het uit hul debuutenkelsnit “Sê my”, het hulle besluit om hul groep Coffeesnobs te noem en in 2015 is hul eerste album, Storm, vrygestel. Benewens “Sê my” het dit ook die treffers “Eie land”, “Skuiling” en “I don’t cry” opgelewer en ’n mens kon agterkom dat hulle nie sommer net in die musiekbedryf is om geld en roem na te jaag nie. Die album se gewildheid het toegeneem toe dit onder die titel Aroma heruitgereik is. Hierdie heruitreiking het ook ’n baie goeie weergawe van “Kinders van die wind” bevat en intussen het Vernette ook die titelsnit van Laurika Rauch se album, “Die reis”, geskryf. Vernette het omtrent dieselfde tipe altstem as Laurika.
Nou is hulle terug met hul jongste album, Lig, en soos gewoonlik bevat dit niks anders as snitte wat deur Vernette self geskryf is nie. Die titel van die album is ook die sentrale tema. “Nou dat die lig op jou skyn” gaan oor die lewe in die kollig en die feit dat jy die beste van jou tyd op die verhoog moet maak. In “Gordonsbaai” sing hulle van een van die gewildste vakansiebestemmings in die Wes-Kaap, wat hulle as een van die mooiste plekke in die land beskryf. Die suiwer akoestiese klank van “Kyk hoe reën dit buite” is iets besonders, en hierin sing hulle van romantiese idees wat ’n mens kan kry as dit reën en dat alles kan wag totdat dit opgeklaar het. “Kyk op” is die eerste snit met ’n Christelike strekking en die boodskap is dat ’n mens aan jou geloof moet vashou as dit sleg gaan. “Oorlog”, die eerste enkelsnit, sluit hierby aan. Dit is geïnspireer deur die gedeelte in Efesiërs 6 waarin Paulus gesê het dat ons die wapenrusting van God moet aantrek. Dis goed dat liedjies met ’n Christelike boodskap ook kommersiële treffers word. “The road” is die eerste Engelse snit en hierop bewys Vernette dat sy ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf en sing. Die boodskap van “Sing jou lied” is dat jy nie moet stilbly as jy iets het om te sê nie. “Wildest dreams”, die tweede Engelse snit, is die laaste snit op die album, en die boodskap is dat jy jou drome moet volg.
Die feit dat daar net nege snitte op die album is, laat ’n mens met gemengde gevoelens. Jy begin net lekker luister, dan is die album verby. Aan die ander kant is dit goed, want dis beter om min goeie snitte te hê as ’n klomp snert wat kastig op ’n album voorkom om dit vol te maak. Dit is presies wat ’n mens van hierdie album kan sê; elke snit is nie net luisterbaar nie, maar uitsonderlik goed en elke snit dra ’n boodskap. Daarom kan hierdie album baie sterk aanbeveel word vir diegene wat op soek is na musiek met betekenis en integriteit.
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.