Krag in die Naam van Jesus – Rudi Muller
Sommige kunstenaars het al die skuif van kommersiële na Christelike musiek gemaak, en nie almal het noodwendig sukses in hierdie genre behaal nie.
Een kunstenaar wie se gewildheid egter wel toegeneem het sedert hy dit gedoen het, is Rudi Muller. Hy het reeds drie Christelike albums vrygestel en nou is die beste snitte van hierdie albums, asook ’n paar nuwes, op ’n versamelalbum vrygestel.
Rudi het die titelsnit van hierdie versameling, “Krag in die Naam van Jesus”, saam met Kobie Koen geskryf, en dit het die potensiaal om baie gewild te word. Vir kunstenaars wat Christelike musiek sing, is dit nie noodwendig belangrik nie, maar dit is tog sekerlik lekker om te hoor wanneer gemeentes dit begin sing. “Draai na die kruis” was een van die beste snitte vanaf sy eerste Christelike album, Deurbraak. “Jy bly my kind” herinner ’n mens aan die gelykenis van die verlore seun; in die musiekvideo word ’n jong man wat tot gevangenisstraf gevonnis is, uitgebeeld. “Maak my nuut” is ’n baie goeie oorspronklike komposisie en nog ’n hoogtepunt vanaf die Deurbraak-CD.
“Tetelestai”, wat ‘Dit is volbring’ beteken, was die titelsnit van sy tweede Christelike CD en hierin sing Rudi van Jesus se kruisiging en opstanding. Die “Vriend in Jesus”-keurspel kom vanaf die Loflied-album, wat hoofsaaklik uit keurspele bestaan het, en dit sal ’n mens dadelik laat saamsing. “Alfa en Omega” is die een snit wat Rudi as ’n kunstenaar in Christelike musiek gevestig het. Die titelsnit vanaf die Deurbraak-CD is nog ’n hoogtepunt op hierdie versameling. “Vlambaar” is een van die treffersnitte vanaf die Tetelestai-album en een belangrike rede hoekom daardie album so gewild was. Die “Our God”-keurspel bestaan uit ’n paar bekende Engelse lof-en-aanbiddingsliedere. Gerhard Steyn was een van die komponiste van “Gee jou hart”, wat oorspronklik op die Deurbraak-album voorgekom het.
“How great is our God”, gesing deur Chris Tomlin, is een van die gewildste lof-en-aanbiddingsliedere wat die laaste tyd verskyn het. Stass, wat deel is van die groep Onbeskaamd is, het die Afrikaanse woorde geskryf. “Hoe groot is ons God” is ook al deur Juanita du Plessis opgeneem en dit word in gemeentes van verskillende denominasies gesing. “Maak gelyk die pad” was nog ’n hoogtepunt vanaf die Deurbraak-album. “JMRMR” staan vir ‘Jesus My Rots My Redding’, en dit is nog ’n snit wat Rudi self geskryf het. Nog ’n bekende snit wat Rudi ingesluit het, is “Oorwinningslied”, wat Piet Smit oorspronklik gesing het. Dit klink egter asof Rudi dit in ’n effens hoër toonaard as Piet sing; miskien pas dit beter by sy stem. “Tiamé” is die laaste snit op die album en seker die naaste aan ’n kommersiële snit wat op dié versameling voorkom.
Baie kunstenaars wat die skuif van kommersiële na Christelike musiek gemaak het, het al onder kritiek deurgeloop; daar word gesê dat hulle dit gedoen het omdat hulle nie sukses met hul kommersiële musiek behaal het nie. Met Rudi is dit egter die teenoorgestelde; dit het hom die kans gegee om homself as sanger te vestig. As jy ’n liefhebber van Afrikaanse Christelike musiek is, sal jy hierdie album geniet.
Jy bly my kind: https://www.youtube.com/watch?v=YNbIu3hvEOc
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.