Kleindorp-dromer – Elandré
Dit gebeur nie sommer dat ’n kunstenaar sommer oor die telefoon ’n CD-kontrak aangebied word nie.
Toe Elandré Schwartz egter Bruce Springsteen tydens ’n onderhoud met Bok Radio in Kaapstad gesing het, het die telefoon gelui. Dit was een van die grootbase van Select-musiek wat hom op die plek ’n kontrak aangebied het. Die gevolg is sy debuutalbum, Kleindorp-dromer en die vraag is natuurlik of die bohaai, as ’n mens dit só kan noem, die moeite werd was. Elandré sing onder sy naam, dalk om verwarring met André Schwartz uit te skakel. Elandré is afkomstig van Despatch naby Port Elizabeth, dieselfde dorp wat die voormalige Springbok-senter Danie Gerber opgelewer het.
Met die eerste snit, “Afrikaans sal bly”, kom jy agter dat jy nie sommer met ’n gemiddelde kunstenaar te doen het nie. Hy het dit self geskryf, en hoewel dit ’n sterk boodskap uitstuur oor die Afrikaanse taal, weerhou hy hom daarvan om ’n politieke standpunt te maak. In “Plek sonder naam” sing hy van die begeerte wat mense soms het om sommer net die pad te vat en nie te weet waar hulle gaan uitkom nie. Ricus Nel se kitaarwerk op “Die lyn” is doodeenvoudig uitstekend.
Die lae register waarin hy in die volgende snit, “Stilte voor die storm”, sing, klink baie goed; dit is maklik om hom met Neil Somers te verwar, maar gelukkig is die ooreenkoms nie te groot nie. Soos met al die Afrikaanse snitte op die album, is dit sy eie komposisie. Elandré het ook ’n paar bekende oorsese snitte ingesluit, en die eerste hiervan is ’n uitstekende weergawe van Josh Turner se treffer “Your man”. Daarna volg die een snit wat op hierdie album móés wees, naamlik “Tougher than the rest”. Bruce Springsteen self sal trots wees op hierdie weergawe van sy trefferliedjie. In “Die tyd het ons geleer” sing hy van iemand wat ’n geliefde verloor het, maar haar op die ou einde teruggekry het. Op “Forever” kom ’n mens agter dat hy country baie goed kan sing en veral die lae register klink baie goed. Daarby is die kitaarwerk uitstekend. Mense wat beweer hulle hou nie van country nie, kan gerus na hierdie snit luister. “Eendag” is seker een van die mooiste snitte op die album. “Honderd duisend maal” is nog een van Elandré se komposisies en ’n moontlike treffer. Die leier van Noot vir noot se Musiekfabriek, Jaconell Mouton, bespeel die klawerbord op “Hier’s ons nou”, waarin hy van ’n egpaar se huweliksbevestiging sing. Die laaste internasionale snit op die album is “Tonight I climbed the wall”, wat oorspronklik deur Alan Jacoskon gesing is. Die laaste snit op die album is Skad”u’s teen my muur”, wat sy eie komposisie is en nie met Koos du Plessis se “Skadu’s teen die muur” verwar moet word nie.
Wanneer ’n kunstenaar ’n CD-kontrak by ’n groot maatskappy kry, is daar altyd ’n moontlikheid dat daardie kunstenaar se integriteit verlore gaan en dat hulle gedwing word om ’n kommersiële rigting in te slaan. Gelukkig het Elandré nie in daardie strik getrap nie; hy is seker een van die beste nuwe kunstenaars wat die laaste tyd op die toneel verskyn het en dit lyk asof hierdie album reeds baie gewild geword het. Dis maklik om te verstaan, want dit kan nie sterk genoeg aanbeveel word vir diegene wat op soek is na meer as net die kommersiële gemors wat gereeld oor die radio gehoor word nie.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.