II – Deca

Die grootste kritiek wat musiekliefhebbers soms teen instrumentaliste lewer, is dat hulle niks anders doen as om met ander se kalwers te ploeg nie en dat hul instrumentale weergawes van bekende liedjies nie ’n alternatief vir die oorspronklike opnames bied nie.
Herman en Douw Steyn is nie net sakevennote nie; hulle is ook die twee lede van die instrumentale duo Deca, wie se tweede album met die gepaste titel II (twee in Romeinse syfers) pas uitgereik is. Hul eerste album, Black sails, het ’n aantal oorspronklike komposisies bevat, tesame met instrumentale weergawes van kontemporêre treffers. Herman en Douw, wat nie familie van mekaar is nie, bespeel onderskeidelik die viool en die kitaar op hierdie album en vorm die kern van die groep, maar op die album word hulle ook deur ander musikante ondersteun.
Daar is geen twyfel wie die teikengehoor is nie. Die eerste snit, Ed Sheeran se groot treffer “Shape of you” bewys dit. Hierdie liedjie word gereeld gespeel, maar Deca se instrumentale weergawe maak dat ’n mens van voor af daarna luister. Daar is net een vokale snit op die album; Len Muller sing saam met hulle op “Oorwin”, wat besig is om ’n groot treffer te word. “Irish festival” is ’n oorspronklike komposisie van Herman, en as jy nie van beter geweet het nie, sou jy dink hulle is afkomstig van Ierland, so oortuigend is dit. Nog ’n moderne snit wat op die album voorkom, is “Can’t stop the feeling” van Justin Timberlake, wat oorspronklik in die animasierolprent Trolls voorgekom het en Deca se weergawe is só goed dat oud en jonk dit sal geniet.
Die 1980’s het nie agterweë gebly nie, en twee groot treffers wat dié wat in hierdie tyd grootgeword het, sal geniet, is “Africa” van Toto en “Kiss” van Prince. “St. Paddy’s jig” is nog ’n oorspronklike komposisie wat ’n mens sommer laat lekkerkry. Hoewel Justin Bieber al baie kritiek moes verduur, is daar geen twyfel dat “Despacito” een van sy beste liedjies tot dusver is nie en Deca se weergawe is eweneens uitstekend. Selfs dié wat nie van Justin Bieber se musiek hou nie, sal dit geniet. Nog ’n baie goeie snit is hul weergawe van One Republic se treffer “Secrets”. Daar is een baie interessante snit op die album, naamlik ’n vermenging van Pit Bull en Kesha se treffer “Timber” en die bekende “Oukraalliedjie”. Die rymkletser Burman kan ook op hierdie snit gehoor word en dit is ’n hoogtepunt op die album. “Toss the feathers” is ’n tradisionele Ierse komposisie wat onder meer deur The Corrs opgeneem is. Die laaste nuwerige snit op die album is “Without you” van David Guetta en die album word afgesluit met ’n baie goeie weergawe van Frank en Nancy Sinatra se bekende treffer “Something stupid”. Die musikale verwerking is baie dieselfde as Robbie Williams en Nicole Kidman se weergawe.
Daar is soveel verbeeldinglose instrumentale musiek dat dit goed is om ’n groep teë te kom wat met ’n vars aanslag vorendag kom. Dié wat dalk nie die oorspronklike weergawes ken van die snitte wat hier ingesluit is nie, sal aangenaam verras wees deur die goeie melodieë wat darem nog hier en daar in moderne musiek voorkom. Hierdie album is moontlik die heel beste instrumentale album wat in ’n baie lang tyd vrygestel is.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.