Vat my terug – Angel de Lange

Daar is deesdae min sangeresse op die Afrikaanse musiektoneel wat met ’n countryklank in Afrikaans vorendag kom, maar een van vanjaar se nuwelinge mag dalk net byval vind by diegene wat van hierdie musiekgenre hou.

Angel de Lange is van Johannesburg afkomstig en het pas ’n kontrak by een van ons land se voorste musiekmaatskappye losgeslaan. Haar eerste album, Vat my terug, is pas uitgereik, en bevat ’n mengsel van oorspronklike en bekende snitte. Die eerste snit op die album, “Ek huil oor jou”, is ’n oorspronklike komposisie wat reeds besig is om teen die trefferslyste van verskeie radiostasies uit te klim. Dis maklik om te verstaan; haar pragtige altstem herinner baie aan dié van Andriëtte en ’n mens kan heeldag daarna luister. Volgens die persverklaring kan haar stem met dié van Bonnie Tyler vergelyk word, maar dit is nie die waarheid nie. “Stiltetyd” is nog ’n baie goeie oorspronklike snit, maar anders as wat die titel ’n mens laat dink, gaan dit nie oor Bybelstudie nie, maar eerder die tyd wat ’n mens saam met jou geliefde spandeer. “Black coffee” is oorspronklik deur Lacy J Dalton gesing, maar Angel sing dit in ’n effens hoër toonaard. Daar is min te kies tussen die twee weergawes. Die titelsnit móét ‘n enkelsnit wees. Baie mense kan hulle daarmee vereenselwig en dit is ook ’n baie lekker wysie. “Juwele” is nog ’n oorspronklike snit wat ’n treffer kan word.

Die woorde van “As hy my verneuk”, is lekker tong in die kies, maar daar is baie vroue wat al in hierdie situasie was. “My hart skree nee” is nog ’n baie goeie oorspronklike snit met woorde wat ’n mens laat dink. Baie mense het al gewonder of ’n verhouding of huwelik nog die moeite werd is en dit is juis die boodskap van hierdie liedjie. Angel span saam met Manie Jackson op die bekende treffer “Somewhere between”. Hul stemme pas baie goed bymekaar; hulle kan gerus meer gereeld saam sing. “Poppedans” se lekker vermenging tussen country en rock gaan by ’n groot gehoor byval vind en daarom verdien dit gereelde radiolugtyd. Angel sing darem nie net oor dinge wat verkeerd loop in verhoudings of oneerlike mans nie; “Vandag begin vir ewig” is ’n pragtige liefdesliedjie. Die laaste twee snitte op die album is bekende treffers. In 1976 het Marie Gibson die nr. 1-posisie op Springbok Radio se Top 20 met “One day at a time” gehaal en sedertdien het verskeie kunstenaars dit opgeneem. Angel se weergawe daarvan is baie goed. Angel het die lekkerste egter vir heel laaste gelos, en dit is die een snit waarop haar stem tog soos dié van Bonnie Tyler klink. Creedence Clearwater Revival het ’n groot treffer met “The midnight special” gehad, en Angel het die moed gehad om dit op te neem. Selfs die kitaarwerk is net so goed soos op die oorspronklike weergawe. Angel verdien volpunte vir hierdie snit!

Dit lyk asof die standaard van Afrikaanse musiek oor die algemeen weer besig is om te verbeter, soos Angel met hierdie album bewys. Dit is ’n lekker album waarna ’n mens van begin tot einde kan luister en ’n mens sal nie sommer gou verveeld daarmee raak nie. As jy van musiek met ’n country-klank hou, moet jy hierdie album by jou versameling voeg!

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.