Bruid – Anders
Daar was deur die jare verskeie getroude sangpare op die Afrikaanse musiektoneel, maar min van hulle, met die uitsondering van Francois en Elizabeth Fourie, Philip en Ella Kotze en Willie en Natasha Joubert, het volgehoue sukses behaal.
Wynand en Lindi Delport is die twee hooflede van Anders, wat teen die einde van verlede jaar hul vierde album, Bruid, vrygestel het. Hulle is ook een van die min kunstenaars of groepe wat gemaklik tussen kommersiële en Christelike musiek kan beweeg en in albei musiekgenres kan oortuig.
Hierdie album is hul eerste Christelike album sedert hul debuutalbum, Dink, leef, klink, wat onder meer ’n uitstekende weergawe van Juanita du Plessis se treffer “Ons Koning kom”, bevat het. Hul volgende twee albums, Liefdesverhale en Ek onthou, het hulle in die kommersiële mark gevestig en hulle het veral groot sukses behaal met die temaliedjie van die rolprent “Knysna”, asook “Die pad”, wat in die rolprent Vrou soek boer gebruik is.
Hoewel hulle nou weer ’n Christelike album vrygestel het, het hulle gesê dat hulle nie op die een of die ander musiekvorm gaan konsentreer nie. Die titelsnit van die nuwe album gaan oor die verhouding tussen Jesus en sy kerk, en die begeerte om gereed te wees vir die dag wanneer Hy weer kom. Wynand is die hoofsanger op hierdie snit. Op die volgende snit, “Jesus het gekom”, is dit Lindi wat voorsing, en hierin sing hulle van Jesus wat gekom het om die mens van sonde te verlos. “In U hand”, waarop Lindi voorsing, is een van die aanbiddingsliedere op die album, en kan maklik deur gemeentes aangeleer word. Die koor van die Hoërskool Lydenburg sing saam met hulle op dié snit. Die volgende snit sal almal laat saamsing. Matt Redman se “10 000 reasons” word deur gemeentes wêreldwyd gesing en dit is maklik om te verstaan hoekom. Dit is ’n pragtige lied en dis goed dat Anders dit opgeneem het. “Kreet (by my)” is ’n loflied wat hulle self geskryf het. Wynand en Lindi het “Nothing less” saam met Mervis van der Merwe geskryf. Mervis is bekend vir sy aanbiddingsmusiek en daarom is dit nie ’n verrassing dat hierdie snit in daardie kategorie val nie. “Waardig”, wat Wynand en Lindi saam geskryf het, is nog ’n aanbiddingsnit wat maklik aangeleer kan word. “Gee my net Jesus” is een van die eerste snitte wat vir dié album geskryf is, en dit sou aanvanklik ook die titelsnit wees. Die volgende snit sal ’n mens weer eens laat saamsing; hulle het ’n baie goeie opname van die bekende lied “Hoe groot is U” opgeneem. Vroeg verlede jaar het hulle die laaste snit op die album “Die tyd is nou”, vrygestel. Op hierdie snit sing hulle saam met Simon Witbooi, wat as die rymkletser Hemelbesem bekendstaan. Dit het die groot treffer geword wat dit verdien het om te wees.
Met hul nuwe album vestig Anders hulself nie net as een van die beste groepe wat Christelike musiek sing nie, maar sommer as een van die bestes algeheel. As jy van Afrikaanse Christelike musiek hou, moet jy hierdie album by jou versameling voeg!
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit. Sed nec pellentesque purus. Nunc finibus urna eget est molestie, non dignissim nulla cursus.