Rugsak – Elandré

Dit gebeur nie sommer dat ’n kunstenaar ’n kontrak losslaan na ’n radio-onderhoud en -optrede nie, maar dit is presies wat Elandré twee jaar gelede reggekry het.
Sedertdien het hy twee albums uitgereik en seker een van ons land se beste nuwe kunstenaars geword. Sy derde album, Rugsak , is pas uitgereik. Anders as in die verlede bestaan hierdie album uit niks anders as nuwe, oorspronklike liedjies nie.
Een rede vir sy gewildheid is sy diep basstem, en met “Waar die wind my waai,” die eerste snit wat ook die nuwe enkelsnit is, stel hy sy uitstekende lae register baie goed ten toon. Dit gaan ’n baie groot treffer word. “Binne en buite” was die eerste enkelsnit vanaf die album, en hierin sing hy van hoe dit is om iemand deur en deur te ken. Daar is net een Engelse snit op die album, naamlik sy eie komposisie, “Jungle”. Hierop bewys hy dat dit vir hom ewe maklik is om in Engels as in Afrikaans te skryf, en weer eens beïndruk sy lae register. Die klavierspel op die titelsnit is uitstekend, en die boodskap is dat ’n mens aandag moet gee aan dit wat regtig belangrik is in die lewe. “Dag en nag” is nog ’n uitstekende snit wat ’n treffer kan word. Die musikale verwerking van “Lemmetjieboom” is uitstekend; die boodskap is dat jy jouself moet wees. Hy wissel sy lae en hoë registers hier baie goed af.
Op “Musiek” sing hy van die verskil wat musiek in mense se lewens maak; die kitaarspel op hierdie snit is besonder goed. “Mode” is ’n snit waarop hy beswaar maak teen dit wat mense alles sal doen om in die mode te wees, en op “Motiveer” laat hy jou dink aan wat jou dryfkrag in die lewe is. Baie mense aanvaar ander mense nie vir wie hulle is nie, en in “Net-net goed genoeg” sing hy van so iemand wat hom geïgnoreer het en gedink het dat daardie persoon beter as hy is, maar eintlik maar dieselfde is. Die boodskap van “Land of sand” is dat dit wat jy is, belangriker is as wat jy het, en dat niemand die reg het om jou drome te kelder nie. Hy sê ook dat jy waardevol is, al is jy, soos hy in die lirieke sê, hardegat.
Dis goed dat daar nog Afrikaanse kunstenaars is vir wie integriteit belangriker as gewildheid is, maar wat steeds kommersieel toeganklik is. Elandré is beslis een van hierdie kunstenaars; die lirieke op hierdie album bevat heelwat lewenslesse en het baie meer om die lyf as dié van die gemiddelde Afrikaanse liedjie wat die heeltyd oor die radio gespeel word. Sy vorige twee albums het baie groot sukses behaal, en daar is hoegenaamd geen rede hoekom dit nie weer kan gebeur nie. Hierdie album sal byna vir seker een van vanjaar se beste nuwe vrystellings wees en word baie sterk aanbeveel!

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.