Mini Hantam-vleisfees Live – Klipwerf Orkes
Hoewel die meeste plaaslike en oorsese kunstenaars gesukkel het om in 2020 optredes te hou, het die gewilde Klipwerf Orkes wel by die Mini Hantam-vleisfees, wat in November in Calvinia gehou is, opgetree en ’n konsertalbum vrygestel.
Die eerste snit op hierdie album is “Lapland”, een van Klipwerf se heel bekendste treffers, gevolg deur “Sonop”. Worsie Visser was net so gewild in die Namakwaland as Klipwerf self, en hy het hulle inderdaad ontdek en op die pad na nasionale roem geplaas. Daarom is dit seker net gepas dat hulle twee van sy bekendste treffers opgeneem het. “Boesmanland” was seker die een liedjie wat hom aan ’n nasionale gehoor bekendgestel het. Met “Lekker ou Jan”, wat al deur ’n spul kunstenaars, onder wie Worsie Visser, Jennifer Zamudio en Basjan Nieuwoudt opgeneem is, het die publiek vir die eerste keer met tant Grietjie van Garies, wat die liedjie geskryf het, kennis gemaak. “Hantam vrolikheid” was die titelsnit van een van Klipwerf se deurbraak-albums en dit bly een van hul beste oorspronklike komposisies.
Tot dusver klink alles nog goed, maar die probleem ontstaan wanneer Klipwerf bestaande komposisies wat nie vir hul musiekstyl geskryf is nie, probeer speel. Een voorbeeld is “Cést la vie (You never can tell)” wat Chuck Berry oorspronklik gesing het. Jy moet mooi luister om die oorspronklike liedjie te herken. “Huis toe” was oorspronklik ’n treffer vir Broers, wat uit die drie Snyman-broers Christo, Cobus en Stephan (wat onder die naam Nic Stevens sing), bestaan, maar selfs hulle sal sukkel om hul eie liedjie te herken. Twee snitte wat wel goed klink, is Don Gibson se “Oh lonesome me” en die bekende Creedence Clearwater Revival-treffer “Midnight special”. Hulle bring ook hulde aan een van ons land se voorste kitaarspelers tot nog toe, Ricardo Bornman, met ’n baie goeie opname van sy treffer “Umfaan”. “Hantamberge” is onder meer deur Chris le Roux opgeneem en Klipwerf se opname daarvan is een van die bestes op die album. “Blue skirt waltz” is ’n ou bekende snit wat uit die 1940’s dateer, maar Klipwerf stel dit aan ’n nuwe gehoor bekend. “Suikerbos-setees” is gegrond op niks anders as die bekende volksliedjie “Suikerbossie” nie. Die laaste snit op die album is die wals “Hantam-verlange”.
Die meeste mense het teen hierdie tyd lankal besluit of hulle van Klipwerf se musiek hou of nie. As jy nie ’n aanhanger is nie, is die kanse baie skraal dat hierdie album jou mening sal laat verander. As jy egter hul vorige albums geniet het, of as jou voete begin jeuk, sal jy van hierdie album hou.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.