Just us – Wynand en Cheree
Sedert Wynand en Cheree Strydom omtrent vyftien jaar gelede saam begin sing het, en intussen getroud is, het hulle een van ons land se gewildste sangpare geword.
Hulle het reeds ’n paar Afrikaanse albums saam vrygestel, maar hul eerste liefde, en die een musiekgenre waarin hulle tot dusver uitgeblink het, was country. Hul jongste album, Just us, is juis in hierdie genre. Die meeste mense sal dalk lag as hulle die eerste snit sien. “You are my sunshine” is ’n baie bekende liedjie, maar niemand dink verder as die refrein nie. Gelukkig het Wynand en Cheree die volledige liedjie opgeneem. Don Williams was een van die gewildste country-sangers tot nog toe, maar “Love me tonight” is nog nie so gereeld deur ander kunstenaars opgeneem nie. Dit werk, om die waarheid te sê, baie goed as ’n duet. “You and tequila” is dalk een van die minder bekende snitte op die album, dis oorspronklik deur Kenny Chesney gesing. “The older I get” was een van Alan Jackson se groot treffer, en die filosofiese lirieke laat ’n mens dink. Johnny Cash het “Jackson” saam met sy vrou June Carter Cash opgeneem; en hierdie snit het ook in die rolprent oor Johnny se lewe, Walk the line, voorgekom. Wynand en Cheree se opname daarvan is baie goed.
“Let your love flow” van The Bellamy Brothers was ’n nr. 1-treffer wat die toets van die tyd deurstaan het, en veral op hierdie snit is hul harmonieë eenvoudig uitstekend. Dolly Parton het die volgende twee snitte saam met verskillende kunstenaars gesing. “Island in the stream” was ’n treffer vir haar en Kenny Rogers, wat verlede jaar oorlede is. Daar is een belangrike verskil tussen die oorspronklike een en hierdie opname en dit is dat Wynand en Cheree na die refrein op dieselfde toonaard bly; die verandering in die oorspronklike opname was onnodig. Dolly het “If teardrops were pennies” saam met Porter Wagoner gesing, en dis goed om ’n nuwe opname daarvan te hoor. Een van die gewildste country-duette van die middel 1970’s was “Somehere between” van The Tumbleweeds, en dis ook al deur Juanita du Plessis en Steve Hofmeyr, wat nie regtig as country-kunstenaars beskou kan word nie, opgeneem. “Stumblin’in” was oorspronklik ’n treffer vir Chris Norman en Suzi Quatro en was internasionaal baie gewild. Een groot verrassing op die album is Sonny and Cher se groot treffer “I got you babe”. Dis goed dat hulle by die oorspronklike ritme gehou het. Elvis Presley se laaste nr. 1-treffer, “Suspicious minds”, is al honderde kere opgeneem, maar Wynand en Cheree was een van die min sangpare wat dit tot dusver as ’n duet gesing het. Die laaste snit op die album is een van die groot rolprent-treffers uit die 1980’s, “Up where we belong”, oorspronklik gesing deur Joe Cocker en Jennifer Warnes.
Die probleem met sekere kunstenaars wat op die country-lawaaiwa spring en hul musiek as sodanig bemark, is dat hulle liedjies wat nie in hierdie genre val nie, in daardie styl probeer opneem. In hierdie opsig het Wynand en Cheree met hierdie album nogal slim gedink. Hulle het nie beweer dat elke snit op die album country is nie en elkeen volgens meriete opgeneem. Daarom sal dit nie net by hul bestaande aanhangers byval vind nie, maar dalk ook by dié wat vir die eerste keer met hul musiek kennis maak.
![daantjied](https://musiekerfenis.co.za/wp-content/uploads/2022/03/daantjied-300x300.jpg)
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.