Herverbeel – Die Heuwels Fantasties
Die Covid-19-pandemie het ’n nadelige invloed op baie kunstenaars se loopbane gehad, maar as daar één groep is wat nie stilgesit het nie, was dit Die Heuwels Fantasties, wie se jongste album, Herverbeel, aan die einde van 2020 vrygestel is.
Daar sal nie ’n “harde eksemplaar” van die CD beskikbaar wees nie, en die groep het dit daarom op alle digitale platforms beskikbaar gestel. Dit bevat ’n mengsel van nuwe snitte, heropnames van bestaande treffers en samewerkings saam met ander kunstenaars in die musiekbedryf.
Die eerste snit, wat ook die eerste enkelsnit sal wees, is “Hardloop weg”, waarvan ’n musiekvideo reeds verfilm is. Dit het ook reeds ’n treffer geword. “Shangri-La” was een van die groep se grootste treffers, maar die oorspronklike weergawe is beter as die nuwe een waarop Tresor saam met hulle sing. Die volgende snit, “Praat met my”, is nog ’n samewerking, hierdie keer speel Die Krefies saam met hulle. Die broer en suster Loki en Margot Rothman kom op die volgende snitte voor. Loki sing saam op “Ek is aan jou kant”, een van die beste snitte op die album. “Mejuffrou Sonneblom” was ’n groot treffer, en Margot Rothman sing saam op die nuwe weergawe, maar ’n mens wonder of die oorspronklike een nie beter was nie. Loki en Margot het hulself al as kunstenaars in hul eie reg gevestig. Chxrl (sic) speel saam met hulle op die moontlike treffersnit “Doodgewone aand”. Laudo Liebenberg was voorheen die hoofsanger van aKing en was ook onlangs een van die kunstenaars wat die album Eet kreef herleef, ’n huldeblyk aan Johannes Kerkorrel se eerste album, opgeneem het. Hy sing saam op “Lieg net vir my”. “Beloofde land” is een van Die Heuwels Fantasties se bekendste treffers; op die nuwe opname speel hulle saam met Richard Oranet. Danny Smoke het aanvanklik as ateljeemusikant bekendheid verwerf, maar sy eerste CD as sanger het omtrent twee jaar gelede verskyn. “Sy”, een van die groep se groot treffers, is die snit waarop hy saam met hulle speel.
Een van die heel beste snitte op die album is “Ons moet leef”, waarop Ampie du Preez saam met hulle speel. Ampie het self al ’n aantal albums opgeneem. Die volgende snit is ’n orkesweergawe van “Oorlewing 101”. TJ Terblanche speel saam met hulle op “Verwag my terug”, een van die beste snitte op die album; veral die klavierspel is uitstekend. “Leja” was een van die treffers op hul gelyknamige debuutalbum wat net meer as tien jaar gelede verskyn het, en hulle het ’n nuwe weergawe daarvan ingesluit. Tarryn Lamb was aanvanklik die hoofsangeres van die groep Blackbyrd, maar intussen het sy haar as Afrikaanse sangeres gevestig. Haar opname van “Ek mis jou” saam met Die Heuwels Fantasties is tydens ’n konsert in die Baxter-teater in Kaapstad gemaak. “Nare kaskenades” is een van die beste akoestiese snitte op die album, maar veral “In en uit” kan ’n treffer word. Die laaste snit op die album, “Tyd”, is nog ’n moontlike treffer en dis jammer dat dit aan die einde van die album voorkom.
Met hierdie nuwe album het Die Heuwels Fantasties weer vir hul aanhangers iets gegee om oor opgewonde te raak. Hoewel sommige van die heropnames nie so goed soos die oorspronklikes is nie, het hulle seker die oorspronklikes op ander albums; daarom maak dit regtig nie saak nie. As jy ’n aanhanger van Die Heuwels Fantasties is, of op soek is na ’n effens alternatiewe album wat nogtans kommersieel toeganklik is, sal jy hierdie een geniet.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.