Patriot – Appel

Nadat Appel groot sukses met sy debuutalbum, Lei my na die water, behaal het, het hy dit opgevolg met ’n heruitreiking, getiteld Boer loop deur my are, met ’n paar snitte vanaf die oorspronklike album maar met ’n paar toevoegings en weglatings.
Nou is hy terug met sy album, Patriot, en die vraag is of hy daardie sukses kan nadoen. Die eerste snit, “Nonna”, is ook die eerste enkelsnit, en dis alreeds op verskeie radiostasies se trefferslyste. “Nonna” is natuurlik ’n ouderwetse woord vir ’n meisie. Die volgende snit, “So bly jy glo my vrind”, gaan oor die invloed wat vriende op mekaar se lewens het. Die titelsnit gaan ’n baie groot treffer word; dit is ’n lekker saamsingliedjie waarmee baie mense kan identifiseer. In “Tequila en gin” sing hy van die tipe meisie waarvan die manne op wie hierdie album gemik is, hou. “F250” is die huidige treffer; hierin sing Appel van die dinge waarvan die “manne” hou, soos braaivleis, gewere en groot bakkies. In die musiekvideo is ’n paar Ford F250’s te sien; dit is ’n groot Amerikaanse bakkie wat ’n paar jaar gelede in Suid-Afrika op die mark was. “Brandewyn en Coca Cola” is natuurlik nog iets waarvan die manne hou; hierdie snit is reguit op dié album se teikengehoor gemik. “Somerson” is nog ’n moontlike treffer. “Jou land” is ’n patriotiese liedjie wat trefferpotensiaal het en maklik ’n anthem (by gebrek aan ’n Afrikaanse woord) kan word. In “Bloed wat roep” sing hy van die belangrikheid van familie. “Kalahari” is iets besonders; dit is ’n langerige snit met ’n inleiding waarop Appel ’n minuut lank praat voordat hy begin sing. Hy praat van die wyshede wat hy deur sy musiek-avonture bymekaargemaak het; onder meer die avontuur wat elke dag wag, en wat belangriker is as ’n gejaag na niks. “Die Gelofte” is ’n beryming van die gelofte wat elke jaar op 16 Desember herdenk word. Adam Tas, Ghapi, Chris Chameleon en Juan Boucher sing saam met hom. “Boeredans” is op die dansvloere gemik, en veral die konsertina laat ’n mens se voete jeuk. “1,2,3 dis ’n lekker dop dié” sal veral byval vind by die manne wat lief daarvoor is om te kuier.
Appel weet presies wie sy teikenmark is, en hy gee vir hulle wat hulle wil hê. Die moontlikheid bestaan dat hierdie album dalk eerder op die platteland as in stedelike gebiede gewild sal wees, maar dit maak nie regtig saak nie.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.