Dis tyd – Juanita du Plessis
Dit is nou byna twintig jaar sedert die publiek vir die eerste keer van Juanita du Plessis kennis geneem het.
Sy het wel haar eerste album, Young hearts, ’n paar jaar tevore vrygestel, maar dit was nie ’n groot sukses nie en eers toe haar broer, Pieter Naudé, die woorde vir “Ska-rumba” geskryf het, het mense regtig begin luister.
Nadat Juanita lank stil was, is sy terug met haar jongste album, Dis tyd. Die titelsnit is ’n duidelike verklaring van voorneme; kykNET het dit met goeie rede as temaliedjie vir sy nuwe advertensieveldtog gekies. Hopelik sal sy die woorde hiervan op haar musiek van toepassing maak, maar meer hieroor later. “Ruk die dam” is iets heeltemal anders; Snotkop sing saam met haar, en hierin sing hulle van die invloed wat musiek op ’n mens kan hê. “Maak dit los” was die eerste enkelsnit vanaf die album, dit is ’n lekker partytjieliedjie maar ’n mens wonder of dit nog geskik is vir ’n kunstenaar wat op pad vyftig toe is. Ter versagting is Juanita nie die enigste een wat nog sulke musiek op hierdie ouderdom sing nie en sy het ook al heelwat liedjie met ’n dieper betekenis geskryf.
Juanita het lank laas saam met Theuns Jordaan gesing, en dis wonderlik dat hulle besluit het om saam te span vir “Stem in die stilte”. Hoe lyk dit met ’n behoorlike ateljee-album Juanita en Theuns? “Wat van liefde?” is ’n pragtige snit wat gereelde radiolugtyd verdien.
“Moeilikheid” se speelse lirieke skakel in by vorige treffers soos “Wit vlag” en “Lepellê”. “#EkBly” is nog ’n baie goeie snit; iets heeltemal anders as wat sy in die verlede gedoen het. Dit is ’n positiewe liedjie oor ons land; iets wat baie nodig is in die tyd wat soveel mense hoop vir die toekoms verloor het. “Yum yum” sal veral by jonger luisteraars byval vind, en dit sal die dansvloere gou vol kry. Dis goed dat sommige kunstenaars nie bang is om ’n konsertina in hul liedjies te gebruik nie. “Thorn in my side” was ’n treffer vir The Eurythmics toe Juanita op hoërskool was. Juanita se weergawe vergelyk goed met die oorspronklike een. “See toe” is ’n lekker snit wat ’n mens laat wens dat die COVID 19-pandemie nou finaal wil verdwyn. “Partykeer” is ’n pragtige snit; Mathys Roets het dit oorspronklik gesing en dis goed dat dit weer opgeneem is. Juanita kan gerus al hoe meer in hierdie rigting begin beweeg; dit pas haar baie goed. “Gaan nêrens” is nog ’n moontlike treffer. Die “Rock and roll Medley” bestaan uit “Have I told you lately” van Geraldine, “Forty days” van Cliff Richard, “Walk of life” van Dire Syraits (hoekom het sy dit nie alleen opgeneem nie?) en “Making your mind up” van Bucks Fizz. Op “Just an illusion” sing haar kinders, Ruan en Franja, saam met haar; dit het reeds ’n treffer geword. “Kies jou weer” is die laaste snit vanaf die album, en dis nog ’n moontlike treffer.
Juanita het weer eens vorendag gekom met ’n goeie album wat by ’n baie groot gehoor byval sal vind. Dit sal egter goed wees as sy voortaan in ’n meer akoestiese rigting beweeg, want soos sy meer as een keer bewys het, pas dit baie goed by haar. Vir eers sal haar aanhangers hierdie album geniet.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.