Hartsland – Andriëtte

Dit gebeur nie altyd dat ’n kunstenaar elke jaar of twee ’n nuwe album vrystel nie.
Een kunstenaar van wie Afrikaanse musiekliefhebbers heeltemal te lank laas gehoor het, is Andriëtte, wat in 2007 die naaswenner van die Idols-kompetisie was en intussen een van ons land se gewildste sangeresse geword het. Nadat sy vyf jaar lank stil was, het sy haar sesde album, Hartsland, pas uitgereik.
Die eerste snit, wat ook die eerste enkelsnit is, is “Druppel in die see”, en soos met haar treffers “Sewe oseane” en “Pêrel vir ’n kroon” is dit ’n komposisie van Rudi Claase. Rudi doen met hierdie liedjie weer sy naam as seker ons land se voorste liedjieskrywer op die oomblik gestand en dis reeds besig om ’n treffer te word. “Sy is Ma” is ’n baie mooi snit wat by enigiemand byval sal vind. Die titelsnit is ’n moontlike treffer, en hier bewys sy dat sy ewe goed in ’n lae en hoë register kan sing. “Stilte” is nog ’n hoogtepunt op die album, en hierin sing sy van die mens se begeerte om net weg te kom van alles af, en om stil en rustig te word. “Pad na jou hart” is nie die temaliedjie van die gelyknamige rolprent nie, maar ’n splinternuwe snit. “Water onder die brug” is ’n besliste treffer; hierdie snit sal mense sommer gou op die dansvloer kry, maar anders as die tipiese Afrikaanse musiek waarvan ’n mens dit kan sê, het die lirieke ware inhoud. Hierdie liedjie moet eenvoudig ’n enkelsnit word! “Hemelse seën” is nog ’n snit wat by ’n groot gehoor byval sal vind en gewild behoort te word. Die laaste Afrikaanse snit is “Daar vir jou” en die boodskap is dat daar iemand is wat vir jou omgee, maak nie saak wat nie. Die lirieke is pragtig, en daarom hoop ’n mens dat dit ’n treffer sal word.
Andriëtte het die waagmoed gehad om twee bekende Engelse snitte, een van ’n internasionale groep en een van ’n Suid-Afrikaanse sangeres, in te sluit. Sommige mense sal nie glo dat sy Queen se treffer “Somebody to love” ingesluit het nie. Goed, die oorspronklike weergawe en die een wat die oorblywende lede van Queen saam met George Michael opgeneem het nadat Freddie Mercury oorlede is, het standaarde gestel waaraan niemand anders ooit sal kan voldoen nie, maar daar is nie eintlik iets met Andriëtte se weergawe fout nie. Lesley Rae Dowling het ’n baie lae altstem; sy kan as ’n tweede alt beskryf word, en haar musiek pas perfek by Andriëtte se stem. “The Spaniard” was seker Lesley Rae Dowling se bekendste liedjie, en Andriëtte se opname, met niks anders as klavierbegeleiding nie, is skitterend. Sy het dié liedjie haar eie gemaak.
Die musiekbedryf beleef tans seker die moeilikste jaar denkbaar om redes wat nie die kunstenaars se skuld is nie, en daarom is dit moeilik om die beste albums van die jaar te kies. Andriëtte se album sal seker as een van vanjaar se bestes beskou kan word; nie omdat die standaarde buitengewoon laag is nie, maar omdat ’n mens van begin tot einde daarna kan luister sonder om verveeld te raak. Die feit dat sy so lank stil was, was eintlik goed, want ’n mens het regtig na iets nuuts van haar kant af uitgesien; die enigste kritiek teen hierdie album is dat dit effens kort is en dat ’n mens lus het vir nog meer as jy klaar geluister het. Welkom terug, Andriëtte!

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.