Boeremusiek is groot

Hoewel die opvatting bestaan dat Boeremusiek net deur ouer mense gespeel word en dat jonger mense glad nie daarin belangstel nie, is daar nog geen sprake dat dit sal uitsterf nie.

Deon van der Merwe, een van ons land se voorste multi-instrumentaliste, het besluit om ’n album saam te stel waarop hy ’n paar musikante bymekaar gekry het en ’n aantal bekende instrumentale snitte opgeneem het. Die klank wyk af van tradisionele Boeremusiek in die sin dat daar onder meer ’n baskitaar en tromme voorkom; dit kan ’n mens se algehele indruk van die album beïnvloed. Sommige van die musikante op die album is Piet van Jaarsveld op baskitaar, Kobie Botha op orrel, Chris Brits op konsertina en die huidige sanger van Touch of Class, Dusty Dixon, op akoestiese kitaar. Die voormalige leier van die Musiekfabriek, Johan van Rensburg, speel op een snit saam; meer hieroor later.

Op die meeste snitte van die album is die konsertina die hoofinstrument, onder meer die eerste snit, “Blikkiesdorp”. Deon is bekend daarvoor dat hy elektriese kitaar speel, en die eerste snit waarop dit gehoor kan word, is die “Boerekitaar-keurspel”, waarop hy hulde aan kitaarlegendes soos Ricardo Bornman bring. Almal weet Deon kan baie goed kittaar speel, maar hoekom dink hy dis nodig om teen die einde teen ’n honderd myl per uur te speel? Twee van die bekendste Boeremusiek-nommertjies op die album is “Connie se seties” en die tradisionele “Kalfiewals”. Een interessante snit is “Die seewind bring heimwee”. Dit was Sias Reinecke se eerste solotreffer, maar Chris speel dit op die konsertina en dit klink nie sleg nie. “Hans se gemmerdans” is nog ’n tradisionele nommertjie wat by alle Boeremusiekliefhebbers byval sal vind. Die “Hartseerwals” was ’n treffer vir Gé Korsten, maar dit word ook gereeld deur Boereorkeste gespeel.

Die snit waarop Johan van Rensburg gehoor kan word, is heel gepas, “Jim Muller se Keurspel nr. 6”; dis toevallig dat Rocco de Villiers onlangs ’n CD met die musiek van Jim Muller, Nico Carstens en Hansie Roodt uitgereik het. Johan is sonder twyfel een van ons land se heel beste klavierspelers; en hierdie snit is seker die beste een op die hele album. Daar is seker nie ’n Boereorkes wat “Kliprivier-polka” nie in sy repretorium het nie. Die Klipwerf-Orkes het in 2019 sy vyftigste bestaansjaar gevier, en “Hantamvrolikheid” is een van hul bekendste treffers. Dis goed om dit op ’n konsertina te hoor. Oom Japie Laubscher se komposisie “Ou waenhuis” is seker die bekendste Boeremusiek-komposisie tot dusver, en ’n album soos hierdie een sou onvolledig daarsonder gewees het. Om een of ander rede is die weergawe van oom Boetie Kallis se “Platboom-polka” nie so oortuigend nie; Kosie Beukes se opname wat self onlangs verskyn het, is heelwat beter. “Suikerbossie” is seker een van die heel bekendste volksliedjies; dit word net nie so gereeld opgeneem nie. Die laaste twee snitte waarop die konsertina die hoofinstrument is, is “Suurberg” en nog ’n bekende komposisie, “Tant San van Christiana”. Met die laaste snit, die “Warmsnare-keurspel”, is Deon weer op sy stukke. “Warmsnare” was ’n komposisie van die bekende kitaarspeler Hansie Roodt, maar daar is ook ander bekende kitaarnommers ingesluit, onder meer “Warm patat” van Nico Carstens en “Ressano Garcia” van Ricardo Bornman. Weer eens speel Deon al hoe vinniger aan die einde; ’n mens wonder of dit nodig is.

Dit lyk asof al hoe meer instrumentale albums deesdae uitgereik word, en elkeen is op ’n ander teikengehoor gemik. As jy tradisionele Boeremusiek verkies, sal hierdie album jou dalk nie aanstaan nie, maar as jy van Boeremusiek met ’n moderne aanslag hou, sal jy dit dalk geniet.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.