Die Kruisiging

Ondanks die oplewing van gewyde musiek in verskillende genres die afgelope tyd, is ’n toonsetting van die geskiedenis rondom Jesus se lyding en kruisiging nog nie in Afrikaans aangepak nie.
Die Kruisiging is gekomponeer vir die 500ste herdenking van Martin Luther se kerkhervorming in 1517, en is in Maart 2017 die eerste keer in Stellenbosch uitgevoer. Dit is geskep om die leemte rondom Afrikaanse gewyde musiek vir lydenstyd te vul. Dit is gebaseer op die onopgesmukte lydensverhaal wat in Johannes 18 en 19 opgeteken is. Die toonsetting is in ’n algemeen verstaanbare styl wat nie besonder hoë eise ten opsigte van die uitvoering stel nie. Dit is geskryf vir soliste en twee kamerkore met ’n tenoor as verteller, ’n bas wat Jesus se rol vertolk, en ’n bariton in die rol van Pilatus. Een van die kore vertolk die rol van die soldate, skare en priesters. Die lied “Vervul, O Heer my hart met stille wyding” (lied 391 in die Liedboek van die Kerk) kom in verskillende variasies in dié stuk voor.
Die stuk is geskryf deur Winfried Lüdemann, wat in 1951 gebore is en musiekwetenskap, orrel en tromboon aan die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch gestudeer het. Hy is sedert 1979 ’n dosent in musiekwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy komposisies sluit onder meer Duitse Lieder in, asook sekulêre en gewyde koormusiek met Duitse en Afrikaanse tekste. Die opnames van die CD van die stuk is in Januarie 2020 gemaak.
Aangesien die verhaal van Jesus se kruising algemeen bekend is, kan ’n mens net op die vertolking daarvan kommentaar lewer. Dit is iets heeltemal anders in Afrikaans; jy hou daarvan of jy hou nie daarvan nie. Dit alles hang maar van jou musieksmaak en -agtergrond af. As jy van meer kommersiële musiek hou, sal dit jou dalk nie aanstaan nie, maar as jy ’n meer verfynde musieksmaak het, of dalk op een of ander manier aan meer ernstige musiek blootgestel is, sal jy daarvan hou. Dit maak ook meer sin op die verhoog as op CD, maar die komponis verdien lof vir die inisiatief en waagmoed wat hy aan die dag gelê het.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.