Die pad – André Schwartz
Sommige kunstenaars stel elke jaar, of dalk elke twee jaar, nuwe albums vry terwyl ander jou lank laat wag.
Een daarvan is André Schwartz. Daar het twaalf jaar tussen twee CD’s wat hy vrygestel het, verloop, en nou moes sy aanhangers weer drie jaar lank wag. Hy beskou sy nuwe album, Die pad, as ’n nuwe hoofstuk in sy lewe aangesien hy nou aan ’n nuwe platemaatskappy verbonde is en ook ’n nuwe musiekpromotor aan sy kant het.
Die titelsnit is ’n komposisie van Roux Cloete, wat al vir verskeie kunstenaars liedjies geskryf het en self ook al ’n album as sanger vrygestel het. Dit behoort een van die treffers vanaf die album te wees. “Tweede kans” was al ’n treffer; die Afrikaanse woorde is deur Joe Foster geskryf. Herman Kleinhans was die wenner van die Afri-Visie-liedjiekompetisie wat omtrent vyf jaar gelede op kykNET uitgesaai is; hy het “Trap in my spore” geskryf en hy is ’n uitstekende liedjieskrywer. “Negentien September” was die temaliedjie van die rolprent Nag van die negentiende. Christa Steyn het dit geskryf en dis baie goed om ’n nuwe opname daarvan te hoor. Dit verdien om van voor af ’n treffer te word. André het met onder meer Joe Foster saamgewerk op die album en Joe het “Perfek vir my” nie net geskryf nie; hy was ook die regisseur daarvan. “Ek sal wag”, geskryf deur Hanmarie de Wet, was tot dusver die groot treffer vanaf die album. Joe Foster het “Roep my” geskryf, en hy was weer eens die regisseur. “Stukke optel”, geskryf deur Danelle de Vries, is die laaste werklik nuwe snit op die album. Die heel eerste liedjie wat André opgeneem het, was “I dare to dream”. Marietjie Stoop het ’n liedjiekompetisie met hierdie liedjie gewen, maar nadat sy “Yo-yo” vir Janita Claassen geskryf het, het ’n mens niks weer van haar gehoor het. Vir hierdie opname het André vir die legendariese Yvonne Chaka Chaka gekry om saam met hom te sing. Dit klink baie goed, maar ’n bykomende solo-opname van hierdie andersins onverkrygbare liedjie sou wonderlik gewees het. “Ek kom huis toe” was die treffersnit vanaf André se vorige album.
André het vier bykomende snitte ingesluit, maar of dit regtig nodig was, is ’n ope vraag. Die eerste een is ’n akoestiese weergawe van “Lief vir alles hier”, ’n snit wat hy al meer as een keer vantevore opgeneem het. Die volgende snit is ’n keurspel van twee liedjies wat net een ding gemeen het, naamlik dat hy albei opgeneem het, naamlik “Ek wil jou nooit weer sien” en “Met jou in my lewe”. As hy wel hierdie liedjies weer wou opneem, sou nuwe afsonderlike opnames beter gewees het. Die laaste twee snitte is weergawes van twee bekende internasionale treffers, naamlik “Hello” van Lionel Richie en “Piano man” van Billy Joel.
André is een van daardie kunstenaars wat met reg as ’n legende van Afrikaanse musiek beskou word. Hy het jare gelede reeds bewys dat hy tot baie beter in staat is as die kommersiële snert (met die uitsondering van “Ek wil jou nooit weer sien”, met grensverskuiwende lirieke en ’n skreeusnaakse musiekvideo, en “Met jou in my lewe”, wat ’n baie goeie liedjie is) wat hy vroeg in sy loopbaan gesing het. Die bekende komponis Andrew Lloyd Webber het André se vertolking van die hoofkarakter van The phantom of the opera trouens beskou as die beste wat hy tot nog toe gesien het; dit is hoë lof van iemand wat internasionale bekendheid verwerf het. Sy aanhangers het lank uitgesien na hierdie album, en hulle sal dit baie geniet.
Skrywer

Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.