
Dr. Lourens Faul
Lourens Faul, ‘n uitstaande figuur in die Suid-Afrikaanse musieklandskap, is in 1931 in Johannesburg gebore. Hy matrikuleer op slegs 16-jarige ouderdom in 1947. Sy formele musiekopleiding begin aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar hy in 1950 sy Baccalaureus in Musiek voltooi. Daarna kwalifiseer hy as onderwyser.
In 1957 voltooi hy sy B Mus Honneurs-graad cum laude, en ‘n jaar later, in 1958, ontvang hy sy M Mus-graad met ‘n tesis oor Johann Sebastian Bach se Orgelbüchlein. Faul se talent word verder erken wanneer hy die gesogte Melanie Pollak-beurs aan Wits ontvang — nie net een keer nie, maar twee jaar agtereenvolgens, in 1958 en 1959. Hierdie beurs stel hom in staat om sy studies in Europa voort te sit.
Aan die Akademie für Musik und darstellende Kunst in Wene (nou die Universität für Musik und darstellende Kunst Wien) slaag hy in 1960 met lof vir sy Reifeprüfung in klavierbegeleiding. In 1963 brei hy sy musikale repertoire verder uit deur lisensiate in sang te verwerf by drie vooraanstaande instellings: Trinity College of London, Royal Schools of Music, en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy akademiese en musiekloopbaan klim tot ’n hoogtepunt toe hy in 1970 sy D Mus-graad in Komposisie aan die Universiteit van Pretoria behaal — ‘n prestasie wat hom vestig as een van Suid-Afrika se mees gesiene musici en musiekpedagoge.
Hy was departementshoof by die JHB College of Education en die Goudstadse Onderwyskollege, doseer sang en klavierspel op Wits, ontwikkel musieklaboratoriums vir die TOD, doen professionele begeleidingswerk by die SAUK, die Akademie für Musik und darstellende Kunst in Wenen, vir Opsa, en vryskut. Hy rig skool-, kollege- en SAUK-kore af, en ook die Schola Cantorum en Lyra-sangkwartet, wat hy gestig het. Hy sing opera, Uberto (die hoofrol) in La Serva Padrone, asook die hoofrol in sy eie operette Die Mooifontein se meisies (een van 8 skooloperettes), en dirigeer die opera Princess Ida by Wits. Hy en Fanus Rautenbach wen ’n R Muller-prys vir hulle satiriese musiekblyspel Lekkerleefland.
Sy “Terugtog”-siklus op verse van WEG Louw besorg hom sy eerste prys. Die talle bundels van solo- en koorliedere wat by DALRO in druk verskyn het, getuig van sy besondere liefde vir die verse van Leipoldt, Visser en Boerneef. Ongepubliseer is nog sy toonsettings van Totius, WEG Louw, NP van Wyk Louw, De Vos en ander. In 2020 is hy in Margate deur die ATKV met ’n “Hoogste Nasionale” ATKV-oorkonde vir sy groot bydraes vereer, onder meer vir die byna honderde komposisies wat hy neergepen het. Hy het al sy werk aan die FAK bemaak, wat dit by die Voortrekkermonument sal bewaar en waarvoor ook hierdie webblad beplan is. Dr. Faul is Duits magtig, benewens natuurlik Afrikaans en Engels, en lees en verstaan Nederlands, Frans, Italiaans en Latyn. Hy ontvang ’n menigte pryse en opdragte, o.a. die TOTAL Spesiale prys vir sy Sonate vir kamerorkes en drie eerste pryse in die ATKV se koorkomposisiekompetisies.
Dr. Faul beklemtoon dat sy groot liefde as komponis/sanger/pianis die kunslied is. ’n Kunslied is ’n toonsetting van ’n bestaande gedig, en dr. Faul het veral aanklank by Boerneef se gedigte gevind. Boerneef se “boerse” prosa en verse bewaar die taalgebruik o.a. van die landelike gemeenskap uit die vorige eeu en Faul herskep daardie wêreld in sy “volkse” ongekunstelde kunsliedere. Dr. Faul het Boerneef, oftewel Izak Wilhelmus van der Merwe, die bekende taalkenner, akademikus en woordeboek-samesteller (saam met professore Hiemstra en Bosman), ’n maand voor sy dood in 1967 ontmoet. Nadat Boerneef Faul se toonsetting van “Vyf palissandryne” op gedigte van Boerneef met goedkeuring beluister het, het hy ’n paar getikte velle van sy ongepubliseerde verse aan dr. Faul oorhandig, en gesê “kyk wat jy daarmee kan maak.” Faul het dit as ’n opdrag beskou en het reeds meer as 300 van hulle getoonset.
By die huis en vir die oues van dae in Margate se Aftreeoord sing en speel dr. Faul elke dag klavierstukke van komponiste soos Bach, Chopin, Mozart, Schubert, Liszt en ander bekendes op sy geliefde Bösendorfer-vleuelklavier. Hy improviseer liedere – alreeds 300 op Boerneef – en ander digters se verse. “Ek skakel my rekenaar-opnemer aan, maak Boerneef se gedigte voor my oop, en begin sing en speel ’n lied wat nog nie bestaan nie, sonder voorbereiding, so uit die mou. Soms is die lied binne twee minute klaar. Dit kom sommer vanself. My stem is nog goed, nie tenoor nie, maar ’n bariton.”
Dr. Faul se ander groot liefde is die oseaan. Hy is feitlik elke oggend met sy branderplank by die see en wag vir die “middelaantwee”- (Boerneef-) gety “wanneer die golwe op hul pensionaris-vriendelikste” is. “Ek geniet die lewe, want ek is ’n komponis, sanger, pianis, branderplankryer.”
(Aangepas uit ’n artikel: “Suidkus se eie Meestermusikus word 90” in die Southcoast Fever van November 4 2021 deur Johan Pretorius, hier en daar aangevul deur Lourens Faul.)

