Weiveld tunes Vol. 3

Die afgelope paar jaar is Weiveld een van die gewildste kuierplekke in Pretoria; nie net omdat van ons land se gewildste kunstenaars gereeld daar optree nie, maar ook omdat dit vir jongmense ’n lekker kuierplek is.
Natuurlik is daar sommige liedjies wat gewild is onder partytjiegangers en ’n derde album met hierdie treffers is pas uitgereik. Die eerste snit is Jay en Lianie se “Naweeklyfie”, wat gemengde reaksie ontlok het toe dit vrygestel is. Mense is mal daaroor of hulle kan dit nie verdra nie. Vincent Gordon se debuutalbum is verlede week vrygestel, en “Stap soos Karlien” is seker sy grootste treffer tot dusver. Dit is nie duidelik oor wie hy sing nie, maar dis dalk Karlien van Jaarsveld. “Die tennis tune” van Dirk van der Westhuizen en die Flooze was seker een van die grootste partytjietreffers van die afgelope jaar. Daar is ongelukkig te veel liedjies van wie “remixes” ingesluit is, dalk was dit ’n probleem om die kopiereg vir die oorspronklikes te kry en daarom is dit beter om dit maar net kortliks te noem, tensy dit regtig ’n groot treffer was. Die eerste hiervan is “Body”, oorspronklik gesing deur Loud Luxury and Brando, gevolg deur nog een, naamlik “Youngblood”, oorspronklik deur 5 Seconds of Summer. Dirk van der Westhuizen se volgende bydrae tot die album is “Jy weet jy’s HAWT”; jy hou baie daarvan of jy kan dit nie verdra nie. Die volgende snit is die “remix” van “Happier”, oorspronklik deur Marshmallo saam met Bastille, gevolg deur een van die lekkerste treffers van verlede jaar. Ongelukkig is ’n “remix” van “Shotgun” van George Ezra ingesluit en dit is nie naastenby so goed soos die oorspronklike weergawe nie. Nog ’n lekker snit wat verlede jaar uitgereik is, is “Coming along” van die Suid-Afrikaanse groep Sunset Sweatshop; dankie tog die oorspronklike weergawe is ingesluit. Fatman, wie se regte naam Johan Brummer is, het tot die musiekbedryf toegetree toe hy aan The Voice deelgeneem het en “Dorp toe” was een van die treffers vanaf sy debuutalbum Boom baby. “Dans in die reën” was een van Karlien van Jaarsveld tot dusver. “458 Italia” was een van die treffers vanaf Eden se laaste album; vir dié wat nie weet nie; ’n 458 Italia is ’n Ferrari. Riana Nel het lank laas nuwe musiek vrygestel; “Die regte tyd” was die titelsnit van haar tweede Afrikaanse album. Brendan Peyper het nou al drie albums vrygestel, en “Hy loop oop”, die titelsnit van sy tweede album, was ’n groot treffer. “Perfect” was ’n groot treffer vir Ed Sheeran, maar nugter weet hoekom dit vir klubs aangepas moes word. Om eerlik te wees; dié pragtige liedjie is in die proses mismaak. “Raak vir my rustig” was een van Snotkop se onlangse treffers.
Die eerste snit op die tweede CD is ’n “remix” van “Are you with me?”, wat oorspronklik deur Lost Frequencies gesing is. Jay en Lianie het ’n groot treffer gehad met “Vir liefde”, en dis goed dat hierdie snit hier ingesluit is. Ampie du Preez het onlangs ’n nuwe album vrygestel, maar “Ons was jonk” kom vanaf sy vorige album. “Rebel en rats” was seker een van Kurt Darren se grootste onlangse treffers. Arno Jordaan was die laaste tyd maar stil, en “Die eerste keer” was seker sy mees onlangse treffer. Dit lyk asof Sunset Sweatshop lekker musiek maak, want soos “Coming along”, is “Move it” ’n hoogtepunt. “Benoni” is ’n komposisie van Johan Oberholzer wat op Jay se jongste album voorkom. “Laat die dansvloer stamp” is ’n spanpoging deur Dirk van der Westhuizen en Vincent Gordon. Juan Boucher is al langer in die musiekbedryf as wat baie mense dink; “Trek toe” is een van sy vroeër treffers. “Sê my” is een van Adam se jongste treffers; dit was die eerste enkelsnit vanaf hul jongste album. “Vra my” is Eden se volgende bydrae tot die album; dit word gevolg deur Theuns Jordaan se groot treffer “Sal jy bly?” Dis jammer dat Theuns so lank laas ’n Afrikaanse album vrygestel het. Steve Hofmeyr het die laaste tyd gewys dat hy country kan sing, en sy weergawe van Kenny Rogers se treffer “The gambler” is baie goed. “Vodka en OJ” is een van Bok van Blerk se eie komposisies en dit was een van die treffers vanaf sy De la Rey-album. Jak de Priester is een van ons land se voorste kunstenaars en “Roer jou voete” was tot dusver een van sy grootste treffers. Die laaste snit op die tweede album is Touch of Class se weergawe van Nickelback se treffer “Gotta be somebody”.
Op die ou einde hang jou mening van hierdie album van jou musieksmaak af. As jy daarvan hou om in klubs te kom, of van dansmusiek hou, sal jy hierdie album geniet. Indien nie, bly maar ver weg.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.