Tuisgebak – Brian Nieuwoudt en Fred Rheeder

Dit gebeur nie gereeld dat “nuwe” musiek jare lank na ’n kunstenaar se dood uitgereik word nie, maar soms gebeur dit tog dat dit as ’n huldeblyk vrygestel word.
Fred Rheerder was een van ons land se beste banjospelers en kort voor sy dood in 2011 het Brian Nieuwoudt, wat veral op die Kaapse Weskus bekendheid as sanger en multi-instrumentalis verwerf het, ’n album in Fred se sitkamer opgeneem. Brian het besluit dat dit tyd geword het om hierdie album eindelik vry te stel.
Brian is een van ons land se voorste konsertinaspelers, maar pleks van die Wheatstone-konsertina wat hy gewoonlik bespeel, het hy besluit om ’n Boerekonsertina, wat in meer tradisionele Boeremusiek voorkom te gebruik. Die eerste snit op die album is “Jakkalsdraai-polka”, een van ’n aantal tradisionele komposisies op die album. “Littelo-settees” is ’n komposisie van die Boeremusiek-legende Japie Laubscher. “Suikerbossie” is een opname waarop Brian ook ander instrumente by sy huis bygevoeg is, en tog het die tradisionele klank nie verlore gegaan nie. “Karringmelk wals” word as ’n tradisionele komposisie beskou, maar dit word veral met Manie Bodenstein verbind. “Só speel die Boere” is nog ’n baie bekende tradisionele komposisie. Die meeste Boeremusiekliefhebbers sal die tradisionele “Annapop-settees” ken. Die akoestiese kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. “Kliprivier-polka” is een van daardie wysies wat jy dalk al gehoor het maar waarvan jy dalk nie die naam ken nie. “Kalfiewals” is een van daardie komposisies wat omtrent in elke Boereorkes se program ingesluit word.
“Antjie” is nog ’n tradisionele komposisie waarop die akoestiese kitaarwerk baie goed is; dit is hoe Boeremusiek móét klink! Daar is twee snitte wat dalk met mekaar verwar kan word, naamlik die “Soutpansberg-polka” en die “Soutpansberg-settees”, maar Boeremusiekliefhebbers sal die verskil ken. “Katdoring-wals” is Brian se eie komposisie, een van die min waarvan die komponis se naam bekend is. Hoewel “Liefling van my” as ’n tradisionele komposisie aangedui word, is dit nog ’n skepping van Japie Laubscher. Die meeste Boeremusiek-komposisies is walse, vastrappe, polkas of setese, maar Brian het die bekende “Kromdraai-mazurka” vir hierdie album verwerk. “Ou Sors se manewales” is nog een van Brian se eie komposisies. “Piet-my-vrou-wals” staan in Engels as “Mockingbird hill” bekend; as dit bekend klink, is dit hoekom. “Veerpoot-polka” is nog ’n bekende tradisionele komposisie.
Daar is heelwat meningsverskille oor wat presies Boeremusiek is en wat nie, veral oor die gebruik van elektriese of elektroniese instrumente en tromme. Hierdie album gaan egter terug na tradisionele Boeremusiek met so min instrumente as moontlik. Dit kan as Boeremusiek in die ware sin van die woord beskou word en daarom hoort dit in die CD-versameling van enige ware Boeremusiekliefhebber.

Skrywer

Daantjie Dinamiet

Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.