Sit kêrels – Adam Tas
In 2007 het die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer van Adam Tas kennis geneem toe hy ’n Guinness-wêreldrekord opgestel het deur by die meeste plekke in een dag op te tree.
Hoewel hy ’n gekwalifiseerde wildbewaarder is, het Adam lankal besluit om hom voltyds op musiek toe te spits; nadat ’n versameling van sy treffers verlede jaar vrygestel is, het hy ook pas sy jongste album, Sit kêrels, vrygestel.
Adam het lankal ’n reputasie as ’n “Boere-digter” opgebou, en met die eerste snit op die album, “Die Here se kombuis”, wat hy saam met Koekoes Bezuidenhout geskryf het, doen hy dit gestand. Op die tweede snit, “Ek is ryk”, sing hy saam met Christelle Combrink, wat deel van die lof-en-aanbiddingsgroep DuisLig is, en ook pas onder die verhoognaam Stella tot die kommersiële Afrikaanse mark toegetree het. Hierdie snit is reeds ’n treffer, en een van die hoogtepunte van die album. “Plaaskatedraal” is nog ’n uitstekende snit wat hy self geskryf het, en ’n mens kan duidelik agterkom dat hy lief is vir die natuur. Die titelsnit laat ’n mens lag; die “tee” waarvan Adam sing, is nie tee nie; sy vrou gooi eerder vir die manne alkoholiese drankies in terwyl hulle kuier. “Blou-oog Julie” is ’n komposisie van Koekoes Bezuidenhout, en weer eens is dit ’n baie goeie snit wat ’n hartseer storie vertel oor ’n meisie wat te mooi vir ’n plattelandse dorp was.
Op “Vriende” sing hy van die waarde van vriendskap, veral tussen mans wat daarvan hou om sekere dinge saam te doen. Vir dié wat dalk nie weet nie: Massey-Ferguson is ’n bekende soort trekker, en op die snit met hierdie titel vertel Adam die verhaal van ’n boer. Die musikale verwerking van “Voëlverskrikker” is iets besonders; die lirieke ook, omdat dit ’n vrou op ’n unieke manier beskryf. “Sophia” is nog ’n komposisie van Koekoes Bezuidenhout, en weer eens kom ’n mens agter dat hy ’n uitstekende liedjieskrywer is. Dieselfde geld “Feëtjies met tattoos”, waarop hy wonder hoe feëtjies uit bekende kinderverhale sou gelyk het as hulle tatoeëermerke gehad het. In “Dans met jou pa” sing Adam van die verhouding van ’n pa en sy dogter. Net een snit op die album is nie splinternuut nie. Adam het Anton Goosen se komposisie “Scotty Smith”, wat op sy mees onlangse album voorgekom het, opgeneem. Daar is niks te kies tussen hierdie twee opnames nie. Dit vertel die ware verhaal van ’n perdedief wat deur geen gevangenis ingeperk kon word nie. Hy het by ryk mans gesteel om arm mense te help. Adam is lief vir Namibië, soos ’n mens kan agterkom uit die lirieke van “Meob”. Adam se ma is in 2017 oorlede, en in “Song vir Ma” bring hy hulde aan haar. Die album sluit af met “Boerebruilof”, wat deur Meyer le Roux geskryf is.
Hierdie album is Adam se negende een, en drie van sy vorige albums het al platinumstatus bereik. Dis maklik om te verstaan hoekom; sy lirieke staan kop en skouers uit bo dié van die meeste Afrikaanse kunstenaars en die musikale verwerkings op hierdie album is baie goed. Adam het weer eens gewys hoekom hy een van ons land se voorste sangers en liedjieskrywers is; hierdie album is een van die bestes van die afgelope jaar en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie.
Skrywer
Daantjie Dinamiet
Daniel Streicher Badenhorst, ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is ’n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis.